“Kom eet by my!” is van die lekkerste uitnodigings om te kry.
Of om die uitnodiging te rig aan ou of nuwe vriende. Ek is nou nie die beste kok nie, maar ek weet die lekkerste kuiers is om die etenstafel.
Waar jy ná ete op jou elmboë kan rus en kan luister na ander se stories.
Dis die waarheid dat ons met ons oë eet – as die kos mooi lyk, smaak dit sommer uit die boonste rakke.
Dis vir my tog te lekker om ’n etenstafel interessant te dek, en soms met ’n tema.
Op ’n keer het ek ’n wit-en-swart ete gehou. Die gaste het dié kleure aangetrek, die tafel was so gedek, en die kos was ook alles wit of swart.
Daar was van swart pasta met ’n romerige hoendergereg tot swart bessies op wit roomys. ’n Ander keer was die kerstafel weer pienk.
Vooraf was daar pienk vonkelwyn, pienk krismisrose op die tafel en onder andere pienk mousse vir nagereg. Dis pret as almal saamspeel.
Onlangs het ek die tafel ’n pers en rooi getooi ter viering van die ‘Red Hat Society’ wat kortiks prettige veroudering aanmoedig. Die kreatiwiteit wat elke mater aan die dag gelê het met uitrustings, was verstommend!
Die etiketkenner Emsie Schoeman het al gesê, “As jy die kos nie self gemaak het nie, is jy die vriendskap nie werd nie.”
Dis so bevredigend as jy sien hoe jou gaste die samesyn en kos geniet.
Die groot sukses van ’n aansit ete, is die kombinasie van gaste.
Ek was onlangs een van agt gaste aan ’n spoggerige rooi, wit en swart tafel. Die voortreflike gasvrou het ons bederf met uithaler tuisgemaakte kos. Die gaste het uiteenlopende beroepe gehad, en daar was nie ’n oomblik stilte nie.
Daar is hartlik gesels oor interessante reise, toneelstukke en beroemdes se egskeidings, tot die nuwe tendens van houthuise, die dorp se verfraaiing en spookstories.
As die mengsel gaste nie noukeurig gekies word nie, kan dit katastrofies wees.
Ek was al by ’n deftige ete waar ’n persoon met soveel skete, in haar noppies was met ’n mediese dokter aan tafel, dat dit byna soos ’n konsultasie was.
Die gasvrou moes bontstaan om die onderwerp telkens te verander!
Op ’n keer was ’n stedelike gas aan my tafel wat beweer het sy het die ‘koeël’ waarmee die skaap geskiet is, in haar porsie vleis gekry.
Die koeël is met groot belangstelling deur van die jagters aan tafel betrag – net om tot die slotsom te kom dat dit ’n tandvulsel is! Dié katastrofe word steeds ná jare vertel.
Enige ete kan in ’n feesmaal omtower word met servette en kerse, en smullekker huiskos. Dis nie nodig om deftig te wees nie.
Dis net belangrik om gesellig te wees, en om die kos met liefde te maak.
Een van my aangenaamste herinneringe aan ‘n kuier met ’n liewe vriendin, was met vars brood, kaas en konfyt en ’n groot pot tee.
Maar dit was haar beste koppies, daar was mooi lepeltjies in die konfyt, blommetjies op die kleinbordjies en lap servette. En natuurlik was die geselskap vrolik en lig.
Elke vrou behoort ’n eetstel en eetgerei te hê vir agt mense. Daarby ook ’n paar staatmaker resepte wat jy met selfvertroue kan maak op kort kennisgewing.
Mense met ’n vol maag baklei en stry nie sommer nie.




