Dis veral dié tyd van die jaar dat meeste mense méér inkopies gaan doen as gewoonlik. Dis ook dan dat ons geduld en aanpasbaarheid beproef word in die lang toue by die kasregister.

Dit gebeur tog al te gereeld dat jy in die ry beland waar die persoon voor jou ‘n probleem ondervind met die aankope: die item se prys is verkeerd/ongemerk, ‘n assistent word geroep om die prys te gaan vind…gewoonlik sonder haas, of die rekenaars gaan van lyn af.

Sommige winkels se ry-reëlings is meer gesofistikeerd as ander. Elektroniese borde wys duidelik na watter kasregister die volgende kliënt kan gaan, en die ry beweeg glad.

Maar o wee! Dan is daar ander plekke waar daar omtrent op jou geskreeu word: “Next! Next!”

Probeer jy groet, is dit ‘n kougomkouende vrou wat jou aankyk en sê: ‘MaRge’ (Môre). Sy skuif die items met mening eenkant toe en skrou annerkant toe vir ‘n kollega, met swaaiende arms, om te kom pak!

Maar om in ‘n ry te staan en wag, kan vermaaklik wees. Daar is nou ‘n kans vir geselsies aankoop, uitvra oor die items in die mandjie voor jou- en dan kry sommer ‘n nuwe resep of kos-idee op die koop toe. So vind jy uit van spesiale aanbiedings wat jy self misgeloop het.

Dis ook interessant om so na aan mense te staan dat jy hulle gesprekke kan hoor.

Met die “Black Friday” aanbiedings het ‘n winkelgroep die trollies weggebêre. Dit het daartoe gelei dat mense met arms vol inkopies in die ry moes staan.

My bejaarde vriendin Klaradyn het met vernuf die pak toiletpapier aangedribbel, en pakke suiker in die arms gedra. Dit het gelei tot ‘n aangename geselsie en ‘n welwillendsgebaar van die jonger vrou voor haar om te help dra aan die goedere.

Dis vir my ook altyd ‘n kans om mense se tatoeëermerke te bekyk en te lees, en sommer uit te vra oor die betekenis en simboliek daarvan.

Op ‘n dag het ‘n bejaarde man voor my in die ry gestaan met nét ‘n potjie broodsmeer. Met die betaalslag het hy munte uit sy sak gehaal en uitgetel.

Die vrou by die kasregister het hardop gesê die geld is te min. Dit was my kans om ‘n goeie daad te verrig…en het die smeersel sommer saam met my goedere betaal. Die oom se dankbaarheid was onvergeetlik.

In plaas daarvan om ongeduldig te raak oor jou eie situasie, kan mens eerder die geleentheid benut om ‘n sprankel te los waar jy was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article