Kankerkinkel in my lewensstorie
Foto ter illustrasie. Credit: Pixabay

“Jy moet altyd sorg dat jou onderklere heel is, want sê nou jy kom iets oor? Dit sal darem ‘n skande wees as die dokter jou flenters moet sien!” het menige ma al gesê as die huismense êrens heen gaan.

En sowaar – daar gebeur dit toe met my! Nou darem nie die flenters nie…maar die skielik dokter toe gaan.

Ek het in die laaste rubriek genoem van die niersteen wat my platgetrek het. Dit was met ongekende spoed dat ek ‘n sak gepak het.

Dis nou híér waar jy ‘hospitaal pajamas’ nodig het, en ‘n vol buisie tandepasta, ‘n nuwe waslap en seep, en netjiese toiletsakkie. Maar as die pyn oorweldigend is, dan moet die alledaagse items maar doen.

Min het ek geweet dat die skandering vir die nierstene toe ‘n nare verrassing sou oplewer. Die uroloog het ‘n noodafspraak by die ginekoloog gemaak, wat na ‘n prosedure onder narkose bevestig het dat ek fase drie ovariële kanker het. Dis bloedtoetse en biopsie en drup en gesukkel vir are.

Woorde soos karsinoom, melanoom, gewas, kanker, narkotiseur, onkoloog, ginekoloog, versprei, histologie en chemo vlieg oor my kop.

My matriek Biologie en Latyn probeer uitrafel wat peritoneum en omentum beteken. My wese en opleiding laat my kalm bly en dit gelate hoor. Regso! Let’s do it! Wat is volgende?

Nou volg die gewag vir ‘n afspraak by die onkoloog. Gelukkig is vriendin Tersia saam as oud-intensiewesorgeenheid suster.

Sy verstaan en interpreteer al die nuwe woorde! Ek begin sommer ‘n WhatApp groep om al my geliefdes eensklaps te laat weet.

Ek het nou positiewe gedagtes en gebede nodig. Ek weet my engele sal my wéér dra…Soos elke ander keer toe ek hulle nodig gehad het.

Ek hoor my lewensverwagting gaan beïnvloed word, dalk gaan die chemo nie vir die stadiggroeiende kanker help nie, en waarskynlik sal my hare uitval en ek sal sleg voel van die chemo.

Die onkoloog gaan wys my die lokaal waar die chemo behandeling gedoen word. Tientalle mense hang hoopvol aan drups met die tower doepa wat dalk hulle lewens gaan verleng.

Nee wat, die skrik is nou verby. Hoekom níé ek nie? Kyk net al die kankerlyers! Daarby het ek talle vriendinne wat al hier deur is.

Ek is al deur ‘n grusame botsing, veelvuldige frakture, al gehoor dat die ortopediese chirurg my been wou amputeer, ‘n jaar in ‘n rolstoel, my twee-jaar-oue baba was al begrawe toe ek na twee en ‘n half weke my bewussyn herwin, ‘n egskeiding, en twee afleggings in my loopbaan. Maar steeds sal ek jubel!

Ek weet van positiewe denke, van lipstiek aansit en aanhou dans, van dag vir dag neem, stappie vir stappie en inligting inwin. Ek weet hoe belangrik skryf en slaap is. En bowenal om die dinge te aanvaar wat jy nie kan verander nie, en iets te doen aan dit waaroor jy beheer het.

Dis nou ‘n kinkel in my storie. Maar dit bly mý storie. Dit gaan seker nou nie skouspelagtig eindig nie. Daarom leef ek steeds voluit, so goed ek kan, vir so lank ek kan! Met die lipstiek aan by vandag se eerste chemo!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article