first aid box, generic image
Foto ter illustrasie. Credit: Pixabay

Elkeen wat al in ’n hospitaal was, sal weet dis ’n ander wêreld. Daar heers ’n kliniese atmosfeer.

Die woordeskat is mediese terme (bv. jou bobeen ’n femur), slaaproetine is anders en die etes glads te vroeg.

As mens siek is, en veral pyn het, is die hospitaal die beste plek om te wees. Maar sodra jy beter is, moet jy huistoe gaan – anders begin klagtes oor onnodige dinge.

Ek het die afgelope week ’n vinnige draai in ’n privaat hospitaal in Gqeberha gemaak met ’n lastige niersteen. Ek het opnuut waardering vir elkeen in die mediese veld. Dit kan voorwaar nie aldag maklik wees nie.

Die sorgsaamheid van verpleegkundiges tot portiere is bewonderenswaardig.

first aid box, generic image
Foto ter illustrasie. FOTO: PIXABAY Credit: Pixabay

Jare gelede was ek maandelank in die hospitaal na ons motorbotsing. Ook toe was ek so dankbaar en het groot waardering vir almal wat my weer opgehelp het.

Dit laat my weer terugdink aan die pastoor-vriend wat my byna daagliks besoek het in die provinsiale hospitaal op Kariega. Die storie is al baie vertel, maar bly ’n mooi een.

Destyds was my een been in traksie met gewigte daaraan, die ander been het ’n Hoffman-apparaat (vlekvrye staal penne) ingehad, my arm in gips, oë was bloedbelope, steke in die voorkop en wonde wat toegeplak was.

’n Metaal raam was gewoonlik oor my bene om sodoende die beddegoed te lig van die bene af. My stem was hees van al die pype wat deur my keel geloop het.

Maar dié oggend het die ortopeed gevra die raamwerk moet verwyder word sodat die wonde bietjie son kon kry.

Dit was juis tóé dat pastoor Jasper Schellingerhout gou vir my ’n gebed kom doen voordat hy sou gaan golf speel het. Hy was duidelik verras met die prentjie díé oggend.

Hy het plegtig langs my bed kom staan. Ek het nie toe besef hoe gespanne hy was nie. Omdat ek nie kon regop sit nie, het hy oor my geleun en saggies gebid. Meteens het hy stilgeword nog voordat hy kon ‘amen’ sê.

Ek maak toe my oë oop en kyk in sy glasige oë vas. Pardoems! Val hy op die vloer neer!

My dogter Erika, toe nege jaar oud, is flou geskrik en bedek haar gesiggie met die storieboek. Sy sê net daar’s oral bloed! Ek kan nie opstaan om te kyk wat aangaan, of om te help nie, en lui toe die klokkie.

Die personeel het aangehol gekom en ’n rolstoel is gaan haal. Die suster het die pastoor se lyfband, das en skoene verwyder, hom in een beweging aan die baadjielapelle opgelig tot op die rolstoel en hulle is daar uit met hom.

Na ’n rukkie kom dierbare Jasper weer inloer – met sy baadjie oor sy arm en pleister op die voorkop. Hy het toe sowaar sy kop teen die metaal bedkassie gekap met die valslag, en sy nuwe gebit het ook ’n hou weg!

Dis toe dat hy vertel hoe gespanne hy juis was, en daarom wou gaan golf speel. Maar hy wou eers ’n gebed kom doen.

Ten aanskoue van die gruwels wat heeltyd onder die metaalraam was, het dinge vir hom net te veel geword, en hy het flou geword.

As oud koerantman het hy gelukkig ingestem vir ’n foto, en ons het die voorblad gehaal van die destydse Oosterlig, en al die susterskoerante.

En dit net omdat ek been vir die pastoor gewys het!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article