’n Plaaslike belastingbetalersvereniging is weer op die been gebring in Jeffreysbaai nadat dit in 2010 laas gefunksioneer het.
“Dit is gebore uit frustrasie van eienaars op die dorp. Ons betaal enorme bedrae aan belasting, en niemand staan op vir ons regte nie, of sien om na ons beleggings in die dorp nie,” sê Soria Swart, ’n wykskomiteelid.
“Net uit Wyk 3 word 33-miljoen rand per jaar aan belasting betaal. Ons wil toesien dat dit vir infrastruktuur gebruik word.”
Daar was eers ’n algemene vergadering gehou, waar ’n komitee toe verkies is. Die groep wat verkies is, meen dat politiek en politieke verteenwoordiging nie in die vereniging hoort nie en dat bekwame mense aangestel moet word. Swart sê, “Ons wil die munisipaliteit aanspreeklik hou vir wat met ons geld gedoen word. Ons wil help om oplossings te bied en nie teen die plaaslike owerheid werk nie.”
Hulle meen die vereniging moet ’n spreekbuis wees om namens almal wat ’n belang in die dorp het, te verteenwoordig. “Dit beteken dan dat ons onafhanklik is en ’n groter magsbasis het. Die groep sal ook goeie begrip hê van die munisipaliteit se werking,” verduidelik Swart.
Verskeie bekwame mense maak reeds deel uit van die eerste komitee. Dit sluit ’n argitek, regskenner en ’n voormalige raadslid in. Die vereniging beoog om werkswinkels te hou oor belastingbetalers se sake. Met die hulp van die vereniging op St Francisbaai, het die vereniging op Jeffreysbaai ook nou ’n plan. Dis baie belangrik dat mense kennis neem dat dit nou bestaan.
Voordele
Die voordele van ’n belastingbetalersvereniging is dat daar onder meer maandeliks met die speaker van die raad skakeling sal wees. “Ons gaan ’n waghond wees en dienslewering aan-spreek. Raadslede doen dit op ’n politike vlak, maar die vereniging op ’n a-politiese manier,” sê Swart.
Aansluit
Belastingbetalers word aangemoedig om by die vereniging aan te sluit. Swart sê hoe groter die magsbasis, hoe groter is die bedingingsmag. Ledegeld word op 1 Maart betaal. ’n Privaat lid sal R200 per jaar betaal, en ’n besigheid R300, en pensionarisse R150. Daar sal binnekort ’n Facebook blad vir die vereniging wees.
- Belangstellendes kan Soria Swart kontak by soria@wildpebbles.co.za of by 082 684 4350.




