Die leë Humansdorp-veldhospitaal vir COVID-19-pasiënte. Foto: Verskaf

The midde van heersende kommer oor die stygende getal koronavirusgevalle in die Oos-Kaap, staan een van die provinsie se veldhospitale al vir byna vyf maande buite gebruik in Humansdorp.

Die gerief in die Kouga-munisipaliteit wat teen sowat R3,5 miljoen gebou is, het volgens Jane Cowley, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, nog nie een COVID-19-pasiënt gehad nie.

Dit terwyl die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, waaronder Kouga val, saam met die aangrensende Nelson Mandelabaai-metro tans as die provinsie se brandpunte vir die koronavirus beskou word. 

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag ná ’n twee dae lange besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro gesê die hospitale beskik oor genoeg beddens, maar gesê ’n bottelnek word ervaar met pasiënte wat opgeneem word terwyl hulle wag op hul uitslae en gemaan dat uitslae gouer beskikbaar gestel moet word.

Cowley het in ’n verklaring gesê die Humansdorp-hospitaal moet pasiënte wat nog op hul toetsuitslag wag, asook bevestigde COVID-19-pasiënte, uit desperaatheid vir plek in ander hospitaalsale plaas, terwyl die ongebruikte veldhospitaal ’n wit olifant is.

Hoewel die veldhospitaal vir alle praktiese doeleindes in Junie voltooi is, sê Cowley ’n onlangse besoek het swak vakmanskap van die struktuur onthul, met geen beddens in vier sale of suurstofpunte beskikbaar nie.

“Met die wete dat ’n tweede vlaag van die pandemie onvermydelik is, het die gesondheidsdepartement die afgelope vyf maande niks gedoen om te verseker hierdie gerief kom in bedryf om COVID-19-pasiënte beter te versorg nie,” het Cowley gesê.

Woordvoerders van die Oos-Kaapse departement van gesondheid het nie op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article