’n Onlangse huisbrand in Jeffreysbaai wat vermoedelik deur beurtkrag veroorsaak is, het die aandag gevestig op veiligheidsmaatreëls wat getref moet word wanneer beurtkrag plaasvind. Joané Azenha het met Humansdorp Brandweer-stasiebevelvoerder, Henrico van Rooyen, gepraat om uit te vind oor die gevare wat beurtkrag vir huise – spesifiek met betrekking tot brande – inhou.

Hier volg ’n paar veiligheidswenke vanaf Kouga-brandweer om ons lesers te help om hierdie tipe brande te voorkom.

  • Skakel alle elektroniese toestelle af gedurende beurtkrag.
  • Onthou altyd om die stoof af te skakel.
  • Sorg dat gas-toestelle nie naby verwarmers, stowe of elemente is nie.
  • Dit is ’n goeie idee om in noodligte te belê wat outomaties sal aanskakel gedurende kragonderbrekings.
  • Maak seker dat jy altyd ’n flits met vars batterye byderhand het. Dit is ook belangrik dat kinders toegang tot flitse in hulle kamers het.
  • Blus alle oop vure wat gemaak is gedurende kragonderbrekings voordat jy die gebied verlaat. Moet nooit ’n oop vuur alleen laat nie.
  • Maak seker dat jy ’n brandblusser naby jou braai-area het en dat dit volledig gediens en nagegaan is.
  • Gebruik altyd veilige kersblakers indien kerse gebruik word. Kerse moet doodgeblaas word sodra die krag weer aan is.
  • Wees uiters versigtig wanneer parafien-stowe of toestelle gebruik word.
  • Koop gerus ’n koordlose laaibank (power bank) om jou selfoon te laai gedurende kragonderbrekings. Dit is belangrik om ’n gelaaide selfoon te hê om noodgevalle te rapporteer wanneer die krag af is.
  • Wees altyd bewus van wat rondom jou aangaan.
Humansdorp Brandweer stasiebevelvoerder, Henrico van Rooyen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article