Met die naderende skoolvakansie wonder ouers dalk watter ekonomiese, COVID-19 vriendelike aktiwiteite om met hul kinders aan te pak. Staproetes is volop in ons pragtige omgewing en kan ’n gesonde, asook sakpas tydverdryf vir gesinne bied. JOANÉ AZENHA het ’n paar roetes vanaf Stormsrivier tot by Lady’s Slipper met haar gesin gaan ondersoek om te bepaal wat die beste opsies vir diegene is wat hulle kinders voor die televisie wil wegkry.

Tsitsikamma waterval-staproete

Hierdie staproete is in die Tsitsikamma Nasionale Park en behels ’n 6km stap en-klim, met die kuslyn langs. Dit bied werklik asemrowende tonele van diverse natuurskoon vanaf die see tot die inheemse woud wat daar voorkom. Daar is egter baie klim-en-klouter betrokke en ek sal dit beslis nie aanbeveel vir kinders jonger as 6 nie. Neem genoeg water saam, en sommer ’n energiedrankie om halfpad te herlaai.

Vir ouer kinders, veral die wat dit geniet om aktief te wees, is hierdie roete ’n fees. Die 6km word oor 4 ure afgelê en die halfpadmerk word aangedui deur ’n asemrowende waterval waar daar geswem en piekniek gehou kan word. Hoogs aanbeveel vir gesinne met ouer kinders.

Tsitsikamma-waterval se staproete. Foto: Joané Aze
Tsitsikamma-waterval se staproete. Foto: Joané Azenha
Tsitsikamma-waterval se staproete. Foto: Joané Aze
Tsitsikamma-waterval se staproete. Foto: Joané Azenha

St. Francisbaai “Two harbours walk”

’n Definitiewe moet vir beginner-stappers wat dit maklik in die geskatte twee ure kan aflê. Ouers met jonger kinders kan ’n bietjie langer rustye neem en dit ook geniet. Dit is ’n gemaklike staproete met minimale klim oor rotse, pragtige seetonele en die bonus lekkerte om vir die kinders die hawe en die bote te wys. By die Port St Francis is daar natuurlik ook heerlike winkels waar ’n vinnige roomys of koeldrank geniet kan word voor die staptog terug. Dit is ook altyd moontlik om vir iemand te vra om jou by die hawe in te wag en per motor terug te keer-dalk ’n goeie idee vir gesinne met peuters.

Shark point-staproete by St. Francisbaai

Volgens die inligting wat aanlyn beskikbaar is, is hierdie roete 6,3km lank, maar ons GPS-toestel het 7km gemeet. Uit ons ondervinding is die afstandskatting op die inligting wat aanlyn en elders beskikbaar is gewoonlik ’n bietjie uit.

Hierdie roete word weer eens nie vir baie jong kinders aanbeveel nie, alhoewel dit vir my twee rakkers van 8 en 11 jaar oud onderskeidelik, ’n fees was. Groot dele van hierdie roete vind om die beeldskone strande wat hierdie dorp bied, plaas en die kinders is mal daaroor om die duine uit te hardloop en in die water hul voete af te koel. Nóg ’n plus is dat hierdie roete troeteldiervriendelik is – mits brakkenjan of -san natuurlik aan ’n leiband gehou word. Dit is dus die perfekte uitstappie vir die hele gesin.

Die twee ure wat dit neem om hierdie roete af te lê voel baie langer, en almal is reg vir ’n roomys ná die tyd.

Die Shark point staproete in St Francisbaai. Dié r
Die Shark point-staproete in St Francisbaai. Dié roete is troeteldiervriendelik – mits brakkenjan of -san aan ’n leiband gehou word. Foto’s: Joané Azenha
Shark point-staproete is troeteldiervriendelik.
Shark point-staproete is troeteldiervriendelik.

Falcon rock-staproete (Lady’s Slipper) 

Die bekende “Lady’s Slipper” rotsformasie kan op pad na Gqeberha (Port Elizabeth) in die verte gewaar word, maar om self daardie piek te gaan klim, bied voorwaar ’n avontuur wat nie so fyntjies getrap kan word, soos die naam voorstel nie.

Hierdie roete is beslis meer ’n klimroete as ’n staproete. Oor die 2,5km van onder tot bo, is daar ’n hoogte-verskil van 343m. Dit is baie steil, maar gelukkig is daar baie rusplek op pad na bo. Wanneer ’n mens uiteindelik bo uitkom is dit beslis die moeite werd. Die asemrowende uitsig is iets wat ’n foto nooit kan vasvang nie, en die trots wat kom saam met die wete dat jy dit gemáák het is die klim werd.

Hierdie roete is beslis nie vir kinders (of volwassenes) wat nie vas op hul voete is nie, maar ons kinders kon dit doen. Dit verg egter deursettingsvermoë en die “uithou en aanhou” les wat hulle geleer het is amper meer werd as die oefening.

Falcon rock-staproete by Lady’s Slippe
Falcon rock-staproete by Lady’s Slipper.

Ratel-staproete by die “Groot boom”, Tsitsikamma

Hierdie roete is perfek vir gesinne met kinders van enige ouderdom. Daar is verskillende roetes om van te kies, tussen 1,5km en 4km. Die roetes is gemaklik, daar is min tot geen opdraandes en die vars lug is hemels.

Kinders is mal oor die diverse plantegroei-die reuse bome op die pad, die verskillende kleure sampioene (ons speletjie was om te tel hoeveel verskillende soorte ons kon kry), en die voëlgeluide is absoluut uniek en heerlik.

Die feit dat dit lyk of daar feetjies woon is ’n bonus vir verbeeldingryke meisies.

Ratel staproete by die “groot boom”.
Ratel-staproete by die “groot boom”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article