Om te verhuis tel onder die top tien mees traumatiese lewensgebeurtenisse.
Ek is dankbaar dat my stresvolle gebeurtenis reeds ’n jaar in die verlede lê. Dit was al jare lank my beplanning om met aftrede my huis op Uitenhage te verkoop en my op die mooie Jeffreysbaai te vestig. Dié hele proses het egter twee jaar vroeër vir my gebeur toe die SAUK verlede jaar honderde werkers afgelê het.
Ek al lankal begin beplan aan die verhuising. Wat ek eerste sal pak, waar ek sal begin uitgooi en vir wie ek wat sal gee.
Maar, ondanks beplanning, oorval die grootsheid van so ’n skuif ’n mens.
Dit het begin toe ek my huis in die mark moes sit. Huis is tog waar jou hart is. Dis waar ek en my gesin 27 jaar lank lief en leed gedeel het, kinderpartytjies en verjaars- dagetes gehou het, prestasies gevier het en teleurstellings deurgewerk het, tuin gemaak het, sommer met pajamas aan saans met die bure in die straat gesels het, vriende kom kuier het, ons aangesterk het na operasies en ander olikhede, en dat dit bowenal die veilige hawe was waar ons rus vir ons siele gevind het.
Die beginpunt was agent-vriendin Ronella wat my geduldig en kundig deur die ver-koopproses gelei het. Vreemdes kom kyk na die geliefde huis, en ek hoor van veranderings wat hulle wil aanbring. Gmf. Die huis is mos perfek . . .
Nou volg die uitgerekte prosedures en papiere en pratery met die prokureur en sy assistent. Een ding volg langdradig na ander. Intussen moet ek ’n nuwe blyplek op Jeffreysbaai soek. Gelukkig help vriend Deon my om ’n geskikte plek te kry sonder trappe en tuin. Dis heen en weer oproepe en eposse van albei kante af. Skielik moet ek leer van oordragkoste, aktes en registrasie, munisipale kwessies, elektristeits- en goggosertifikate.
Die uit- en intrekdatums verskil. Liewe vriend Herman help knap met die pak en vervoer van my aardse besittings na sy plaas. Na ’n paar weke kan ek eindelik al die kratte en bokse in my nuwe nes uitpak.
Die inpakkery was ’n gedoente, beplanning te spyt. Ek het geleer dat die sortering en wegmaak van papiergoed ’n goeie begin is. Boeke, koerante, tydskrifte, foto’s, dokumente, rekeninge en briefies maak ’n groot deel uit van die tydsame proses.
Sentiment is ’n mens se grootste vyand. Mens hou ook goed omdat jy plek het. Nou dat jy weet plek gaan minder wees, is daar regtig baie items wat maar elders ’n lêplek kan kry.
Die uitgooi is een ding, maar om dít na regte plekke en mense te neem is ’n ander ding. Ons Winkel van Solidariteit het ’n groot oes gekry. ’n Kleuterskool het gebaat by my destydse onderwysapparaat. Stuk vir stuk het my lewe lenig geraak.
Daar’s weer ander uitdagings by die nuwe huis: die tv moet ingestel word, lugverkoeler en dakwaaiers moet geïnstalleer word, elektriese verbindings moet aangepas word, gate moet geboor word vir die skilderye en hakies moet ingedraai word. En dan moet jy nog jou adres orals ver- ander.
Dis wraggies nie net vir oppak en trek nie.
Dit was met die grootste dankbaarheid en tevredenheid dat ek die eerste aand by my nuwe adres kon slaap en die see hoor. Oos wes, tuis bes.




