Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

’n Kennisgewing op ’n kosbare vriendin en oud-kollega se WhatsApp status herinner my daaraan dat 3 November tot 3 Desember bewusmakingsmaand is vir die regte van gestremdes. Vir diesulkes het ek ’n sagte plek.

Die boodskap lees dat die bewusmakingsveldtog gestremdes die geleentheid gee om die samelewing bewus te maak van hulle struikelblokke, en dat hulle ’n kwaliteit lewe kan leef.

As iemand met hulpmiddels soos krukke, rolstoele en looprame oor die weg kom, is dit opsigtelik dat daar ’n inperking is.

’n Geamputeerde ledemaat dui vanselfsprekend op ’n gestremdheid. Ek onthou op laerskool was ’n dogtertjie saam in die klas wat polio gehad het, en sy het met “ysters” aan haar bene geloop. Ek het haar vreeslik jammer gekry. Ons het beurte gemaak om die vriendelike dogtertjie se tas te dra.

Self was ek al ’n jaar in ’n rolstoel en het nog maande daarna met beenstutte oor die weg gekom weens frakture na ’n ernstige motorongeluk. Dis toe dat ek die uitkyk van “normale” mense onder oë geneem het. Dit was sowaar ’n werklikheid dat mense jou meestal nie ag nie, dink jy is dom en kan ook sommer nie hoor as hulle van jou praat nie. Net my bene was verbrokkel, maar my verstand, oë en ore het niks makeer nie!

Ek het ook eerstehands beleef hoe uitdagend dit is om met ’n rolstoel toegang tot plekke te hê. My toestand het in so ’n mate verbeter dat ek selfs weer kan dans. Maar ander is nie so gelukkig nie.

Oud-kollega Roslyn Baatjies se nek is gebreek na ’n taxi-ongeluk in 1990. Na elf maande in die Conradie Hospitaal en nog maande se rehabilitasie moes sy die “regte lewe” pak. Weens haar spastiese linkerkant, is die wind en deure dié petite vrou se grootste uitdagings. Die wind waai haar maklik om, en sy sukkel om deure oop te maak. Die moedige joernalis vriendin leef steeds ’n kwaliteit lewe.

“Ons vra net sensitiwiteit en bewustheid van wat anders is vir ons. Vra my gerus oor my andersheid eerder as my te ignoreer of te praat asof ek net moet inpas. Sluit my asseblief in en vra of ek hulp nodig het. Ons is in staat om enigiets te doen – net op ’n ander manier,” is haar waardevolle raad aan mense wat ongemaklik of onbeholpe voel in hulle geselskap.

Ek het al hier vertel van vriendin Heila wie se arm afgebyt is deur ’n boerboel. By ’n vakansiebestemming in Dubai is sy gereken as “a person of determination” en het gratis toegang gekry. Sy is raakgesien vir haar stérkte, en nie haar swákheid nie. Daar is talle mense wat nie opsigtelik gestremd is nie, maar wat daagliks sukkel met gewrigs- en ander pyne, swak sig, disleksie, seer voete of heupe ens. Dit belowe ek jou: as jy iemand anders help, kom jy darem self ook bo, en jy sal goed voel oor jouself. Wees net bietjie meer oplettend en sensitief.

Onthou net, oudword is nie ’n gestremdheid nie hoewel dit ’n gegewe is. Maar soos Celeste van der Walt in haar boek sê: oudwéés is ’n keuse.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article