Die labirint en die metaal suile daarby in Noorsekloofweg in Jeffreysbaai is vir die tweede keer erg gevandaliseer gedurende die middernagtelike ure.
“Dit is regtig baie hartseer dat iets soos die labirint wat vir die dorp se mense geskep is om rustig daar te kan stap, so verniel is. Wat dit veel ergers maak, is dat daar albei kere met rooi verf Bybelverse in die middel daarvan geverf,” sê Zuanda Badenhorst, die kunstenaar wat die suile ontwerp het.
Die labirint verskil van ’n doolhof deurdat dit ’n begin en ’n einde het. Dit bestaan uit ’n enkele kronkelpad wat van die ingang na die middel lei, en mens loop weer dieselfde paadjie terug.
Labirinte word oral in die wêreld aangetref en word gebou met klippe, blomme, skulpe, laventel en ander elemente. Jeffreysbaai s’n is spesiaaal met spekboom gebou.
“Daar is juis spekboom gebruik om mense bewus te maak van suurstof wat die plant afgee. Die doel is om ’n rustige, kalm plek te skep waar kinders, ouer mense kan gaan stap. Enigeen kan dit ook op ’n spirituele manier benut. Dit blyk dat daar fanatiese mense is wat onder die indruk is dat die labirint verband hou met geestelikheid en anti-Bybels is. Dis egter ver van die waarheid,” verduidelik Badenhorst.
Die metaal suile wat daar opgerig is verteenwoordig die element van die natuur: water, wind, vuur en die natuur. Die boodskap is eintlik dat die mens bewus moet wees van die aarde en dit bewaar.
Pieter Kok wat destyds die uitleg gedoen het, het verduidelik dat labirinte op ’n antieke spirituele manier gebruik kan word vir gebed, insig, balans en konneksie met God. Dié gebruik dateer uit die Middeleeue.
Dit is ’n gesamentlike projek van die Dorp van Dromers en die Kouga Munisipaliteit. Daar is reeds ’n klag van saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak.
“Dit is groot, en duur, skade. Daar sal ook moontlik gekyk word na die aanbring van sekerheidskameras.” Indien enige iemand kan help, al is dit met die kleinste leidraad, om die skuldiges vas te trek, kan Zuanda Badenhorst geskakel word by 083 677 2053, of die polisie op Jeffreysbaai.





