TOE Darryl Krige as jong man in ’n lewe van dwelms vasgevang was, het hy nooit gedink dat hy eendag die eienaar van ’n suksesvolle besigheid sou wees nie.

Na die geboorte van sy oudste seun dertien jaar gelede, het Darryl besluit dat hy ’n drastiese verandering aan sy leefstyl sou moes maak om ’n gesonde voorbeeld te stel, en deel te wees van sy lewe.

Hy het sy dwelmgebruik gestaak en ’n nuwe blaadjie omgeslaan. Hy het later selfs by ’n dwelmrehabilitasiesentrum gewerk om ander te help om dit ook te doen.

Verlede jaar, gedurende ’n tyd wat baie besigheide se ondergang beteken het, het Darryl ’n blink idee gekry toe hy ’n pastei van ’n gewilde padstal in die omgewing eet.

Darryl, ’n gekwalifiseerde sjef en ervare restaurantbestuurder, het dadelik besef dat ’n lekker pastei altyd goed sal verkoop.

Hy het besluit om ’n steekproef te doen en het ’n paar pasteie in hul kombuis gebak en aan ’n klein groepie mense verkoop.

Hy het sodoende geleer dat daar ’n aanvraag is na goeie gehalte, tuisgebakte pasteie en het ’n paar weke lank deurnag gewerk om pasteie aan kliënte te verkoop.

“’n Tuiskombuis beperk egter die aantal pasteie wat gebak kan word, en so ek het na ’n besigheidsperseel begin soek. Proper Pies is te vinde op die hoek van Seetuin- en Jakaranda-straat in Jeffreysbaai.”

Darryl glo daaraan om gewilde gunstelinge met goeie gehalte bestanddele te maak, en sodoende ’n gelukkige kliënt te verseker. Smaaklike vulsels, genoeg vleis in sy pasteie en ’n heerlike, bros kors is sy geheim tot die perfekte pastei.

Hy is passievol daaroor om sy werkers op te lei in vaardighede, soos pasteie bak, maar ook om vir hulle besigheidsbeginsels te leer sodat hulle dalk eendag hul eie besighede kan bedryf.

“Dit is ook vir my belangrik om terug te gee en ek glo dat ’n persentasie van winste in die plaaslike gemeenskap teruggeploeg moet word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article