Een van die bekendste en mees geliefde mense op Uitenhage is onlangs oorlede. Hy was nie bekend vir sy status, geld, voorkoms of invloed nie. Hy was vir meer as 18 jaar bekend as die vriendelike en uiters behulpsame karwag by die Levyvale winkelsentrum.
Victor McHugh se lewe is skielik kortgeknip deur ’n stryd teen kanker. Dis amper ondenkbaar, want hy het ’n plan gehad vir alles en almal. Niks was vir hom moeite nie.
Hy het die meeste van die gereelde kliënte se name en motors geken, en het met groot vaardigheid een inkopiewaentjie vir die ander geruil om inkopies in die kattebak te laai.
Almal het ’n storie om oor Victor te vertel – hy was nie net ’n karwag nie. Hy was veel meer as dit. Hy was ’n helper, vriend en sommer vir my ook ’n held.
Op ’n dag het ek met my twee kleinkinders gaan inkopies doen. Toe ons uit die winkel kom, het die wind skielik sterk gewaai en reën-vlae het teen ons gewaai. Ek het net nie genoeg hande gehad om die twee kleuters, my handsak en die mandjie te hanteer nie. Van doer af het Victor gesien ek sukkel en op ons afgepyl. Hy het die een kind in die waentjie gelaai en die ander een onder sy arm getel, my sleutels geneem en gewikkel na my motor toe.
Teen die tyd dat ek tot verhaal gekom het, was die kinders op die agterste sitplek vasgemaak en die pakkies in die kattebak. Dié dag was hy my held!
Op ’n ander geleentheid het ’n groot verleentheid my oorgekom. Net toe ek by die kasregister wou betaal, besef ek my beursie was in die paneelkissie van my kar. Ek het my held Victor se oog gevang en nader gewink. Soos ’n wafferse Superman was hy terug met my beursie!
Ek het ’n dierbare Maltese gehad – Toffie Fourie. Hy en Victor was sommer van meet af aan groot vriende. As ek gou by die supermark wou inspring vir ’n item of twee, het hy die bolletjie wol voor by sy bors in sy geel baadjie gesit. Toe Toffie groter word, het hy hom aan die leiband vasgehou en soms gaan sit en gesels met hom. Victor was so trots toe hy op ’n dag sien dat Toffie dieselfde glimmer geel baadjie aan het as hy, wat ek by ’n fees gekoop het.
Sy verdriet oor sy vrou, Salomi, se dood twee jaar gelede, sal my altyd bybly.
Hy was altyd so trots om sy handewerk te wys van houtartikels wat hy gemaak het, of riempiestoele wat hy weer nuwe lewe gegee het.
Victor was so dankbaar vir elke geldjie wat hy gekry het, maar dit het hom min geskeel as hy nie iets gekry het nie. Vir hom was sy dienslewering sy trots. Hy was ’n raakvatter soos min.
In ’n radio-praatjie het ek al gehoor ’n vrou se grootste behoefte is: “Help my!” Ek sou soms draaie ry om eerder te parkeer by die winkelsentrum waar Victor is. Dan het ek geweet: hy sal my help.
Vaarwel liewe Victor. Jy het spore in so baie mense se harte gelaat.



