netbal nico malan
Ook op die netbalbane gaan daar hard gepoog word om die doele in te ryg. Hier is Minandi Venter in aksie vir Nico Malan.

Twee groot sportnaweke lê vir die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp voor.

Wanneer Nico Malan se eerste rugbyspan op Saterdag 23 Augustus teen die gedugte Hoërskool Framesby op die veld draf, gaan die dorp behoorlik tot stilstand kom.

Albei skole speel vanjaar uitstekende rugby en die verwagting is weer dat daar geen genade gegee of gevra sal word nie. Dit kan ’n stryd tot die bitter einde wees.

Nico Malan het die voordeel van ’n tuisveld, maar Framesby floreer oënskynlik op wegwedstryde.

’n Bewys hiervan is toe hy Grey onlangs op die Grey-veld laat klippe kou het vir ’n oorwinning in die doodsnikke van die stryd.

In die twee spanne se laaste vier kragmetings het albei twee keer gewen.

  • In 2019 het Framesby op Humansdorp ’n wegholsege van 94-7 behaal, en in 2022 op sy tuisveld met 16-13 deurgeskraap.
  • In 2023 en 2024 het Nico Malan die bordjies verhang.
  • In 2023 het Nico Malan op sy tuisveld met 21-17 gewen en dit verlede jaar in die Baai opgevolg met ’n sege van 14-8.

Op Donderdag 21 Augustus kom die Big Brag aan die beurt voordat die Nico Malan-ondersteunersklub ’n reünie by The Woods hou.

Daar sal egter nie net op die rugbyveld koppe gestamp word nie omdat Nico Malan en Framesby ook in tennis, hokkie, netbal en gholf sal meeding.

Verder is daar ’n groot plaasmark beskikbaar waar toeskouers na hartelus eet- en drinkgoed kan aankoop.

Die naweek daarna, word die First Choice Invitational sewesrugby en Fast 5-netbalwedstryde op 29 en 30 Augustus ook by Nico Malan beslis.

Vanjaar is die sesde keer dat Nico Malan die sewestoernooi aanbied.

Die toernooi het begin met net plaaslike skole, maar sedertdien word die voorste drie rugbyskole in die land, Paarl Boishaai, Paarl Gimnasium en Grey College van Bloemfontein ook gehuisves.

Ander top-20 skole sluit in Oakdale en Outeniqua, met plaaslike skole soos Nico Malan, St. Andrew’s College, Framesby, Marlow, Brandwag, Pearson, Daniel Pienaar, Humansdorp Sekondêr, Bergsig en ‘n Gqeberha-uitnodigingsspan wat bestaan uit onder andere Otto du Plessis, Andrew Rabie en Cillié.

rugby nico malan
Nico Malan gaan swaar op sy skrums leun. FOTO: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article