Die wenners van die jaarlikse tuinkompe-tisie by die Eedenglen aftree-oord op Jeffreysbaai het hul vernuf gewys met waterslim plante.
Een van die beoordelaars, landskapargitek Pieter Kok, sê: “Dis bemoedigend om die pragtige tuine in die oord te sien ondanks die voortslepende droogte. Vetplante is nou gesog en tuinmakers het dié waterslim plante goed benut.”
Die beoordelaars het die tuinaspekte van kleur, uitleg, waterslim plante en algemene voorkoms beoordeel.
Die wenner van die groottuin-afdeling is Lucille Serfontein en Harry Gerber het die tweede prys ingepalm. Barbara Hugo is as die wenner van die kleintuin-afdeling aangewys met Barbara Quinn in die tweede plek.
Kok sê die grootste uitdaging om tuin te maak is selfbeheersing, om nie te veel en deurmekaar te plant nie. Hy verwys na die kleintuin-wenner se tuin as, “fyn gekoördineer, met genoeg kleur, tekstuur en orde, sodat elke plant tot sy unieke reg kom.”
Wat die beoordelaars veral opgeval het is die vreugde wat ’n klein lappie grond kan bring.
“Daar is mense wat nie vir die kompetisie ingeskryf het nie, maar wat plesier vind om ’n stukkie grond te bewerk en om te plant, al is dit nie by hulle eie voordeure nie.
“Soos die vrou, reeds in haar negentigs, wat genot put uit die tuintjie wat sy gemaak het in die deurloop na die siekeboeg,” sê Kok.
Sy noem dit die “Tuin vir Almal” want daar blom poinsettias en amaryllis baldadig en die voëls baljaar tussen die clivias, rose en kappertjies.
Volgens Kok vind mense ontvlugting en kalmte as hulle tuin maak. Dan is daar nog die bevrediging van ’n plant wat groei, en ’n blom, vrugte of groente dra.
“Dit gaan daaroor om elke dag aan te gryp en te plant wat jy kan. Om dit te versorg en dit elke dag te geniet.”





