Wanneer die avontuurlus groot word, is hierdie staproete ’n onverbeterlike naweektydverdryf.
Geleë in die Tsitsikamma Nasionale Park, is dit nét ver genoeg om die vakansiegees te begin voel, maar darem naby genoeg om dieselfde dag huiswaarts te keer.
Hierdie staproete het van die beginpunt af al genoeg van die inheemse natuurskoon dat dit die stapper geesdrifting koers laat inslaan met die heerlike afwagting vir wat nog kom.
Aan die linkerkant kan die stapper homself verwonder aan die kragtige golfslag van die Atlantiese oseaan, waar’n mens jou maklik kan verbeel dat in die verte, die skynbeeld van ’n oeroue strandloper gesien kan word. Alhoewel die versoeking groot is om sommer hier aan die begin te staan en anker te gooi, is die wete dat dit maar net die oor-tjies van die spreekwoordelike seekoei is, te veel om te weerstaan en aanstap is ’n moet.
Kyk jy regs, is dit ’n ander wêreld: Die oneindige vlegsel van inheemse plantegroei staan soos ’n muur langs jou op. Beelde uit die film Gorillas in the Mist, flits deur jou gedagtes wanneer die boombedekte berge bo jou uittroon, die verwagting dat die een of ander wilde dier jou verder op die pad gaan ontmoet, verseker in jou agterkop.
Die onverbeterlike vars, sitrusgeur van die plantegroei betower jou sintuie en laat jou toe om heeltemal in hierdie wêreld te ontvlug.
Dit is bykans onmoontlik om hier te stap sonder om ’n diép liefde vir ons plaaslike na-tuurskoon te ontwikkel. Dit is te verstane dat stapentoesiaste van regoor die wêreld toustaan om die Otter-staproete, waarvan hierdie die beginpunt is, te kom doen.
Op hierdie roete word helderskoon waterpoele afgewissel met pragtige en interessante rotsformasies, die periodieke houtbrug of –trap en grotte asook hier en daar ’n welkome trek deur die koelte van die inheemse bos.
Soveel diversiteit in fauna en flora op een roete sal jy weinig elders teëkom.
Die roete is nie so lank nie – ’n skamele ses kilometer is amper te kort om oor te vertel, maar die terrein is beslis rof en word dus glad nie aanbeveel vir diegene met minder as eenhonderd persent mobiliteit nie.
Dit is vir kinders ’n heerlike klim-en-klouterervaring, maar alhoewel daar heelwat brawe ouerpare met kleuters op die pad te sien was, sou ek dit nie aanpak met kinders wat nog nie baie vas op hulle voete en van goeie balans is nie. Daar is plekke waar lang treë en spronge oor rotsskeure die enigste deurweg is, wat dit nie ideaal maak vir klein kinders nie.
Die ander lekkerte is natuurlik die talle ander stappers op die roete. Daar is ’n tipe kameraderie tussen almal wat mekaar vriendelik groet in die verbygaan.
Wanneer stappers eindelik by die pragtige waterval uitkom en moeg op die rotse neersak, is daar ’n gevoel van prestasie in die lug. Piekniekkos word hier uitgehaal, waterbottels dorstig leeggedrink en skoene haastig uitgetrek om die lafenis van die water op moeë lywe te ervaar.
Bowenal is die absolute joligheid van volwassenes, kinders, jeugdiges en ouer garde wat die verfrissende water van die swemgat geniet, opvallend. Hier is almal dieselfde: daar is net een manier om daar uit te kom en wanneer iemand daardeur is, is jy deel van ’n eksklusiewe groep mense wat dit gemáák het.
Na ’n heerlike ruskans by die waterval, word die tog terug aangepak. Hierdie terugmars geskied meestal in stilte, elke stapper verlore in sy of haar eie gedagtes – die wete dat hierdie wonderwêreld agtergelaat moet word, word met elke tree meer tasbaar.
As die geluk jou tref, kan jy dalk, soos ons, deur ’n bosbokkie gegroet word, wat jou verseker dat alles eintlik oukei gaan wees.
Aan die einde van hierdie ongelooflike staptog kan jy van twee dinge verseker wees: Jy gaan die effek van ’n dag se harde stap aan jou lyf voel en jy sal hierdie ondervinding vir niks op die aarde verruil nie.
In kort is die waterval-staproete in die Tsitsikamma Nasionale Park beslis die moeite werd.



