BREEK weg van die stadsgewoel na ’n plek waar tyd stilstaan; waar die oorverdowende stilte van die bos hard met jou praat en ’n reuse, oeroue Outeniqua-geelhoutboom jou siel roer.
Aan die kant van die N2, net verby die Storms-rivier Total Village van Jeffreysbaai af, lei ’n parkeerterrein na wandelpaadjies deur die spikkellig van die welige, koel Tsitsikammabos in die Tuinroete Nasionale Park.
Daar is drie roetes: die 1km-sirkelroete vat besoekers tot by die Tsitsikamma Groot Boom – ’n gemaklike 10 minute se stap. Twee roetes is vir die meer onverskrokke stapper en begin by dieselfde plek: ’n 2.6km-roete en 4.2km-roete.
Name van bome word langs die pad aangedui, en die verskillende paaie is goed gemerk.
Die roete bekoor vanuit die staanspoor. Ons stap dieper die bos in, oor gemaklike houtwandelpaadjies en onder ’n digte blaredak van verskillende bome só verweef dat beperkte sonlig deursyfer.
Na 500m maak die bos skielik oop. ’n Yslike Outeniekwa-geelhoutboom – beter bekend as die Tsitsikamma Groot Boom – staan trots en waghou oor die bome-paradys.
Die grysaard is meer as 800 jaar oud en staan 36+m hoog, met ’n stamomtrek van 9m – ’n reus onder reuse.
Eerbiedig raak ek aan die reus . . . hy práát met my siel. ’n Storie-skatkis van houtkappers, bos-paadjies en olifante lê in sy stam opgesluit. Ek maak my oë toe en verbeel my ek hoor die swaar voetval van Oupoot. In die agtergrond breek die dowwe gekap van ’n houtkapper se byl die stilte. ’n Magiese oomblik.
Dan is dit tyd vir verder stap.
Van hier volg ons die 2.6km-staproete.
Die houtpaadjie maak plek vir ’n smal voetpad wat kronkelend deur bome en varing loop.
Bome gesels kreunend en steunend saam, terwyl kleurvolle swamme welig op boomstamme groei.
Kyk uit vir die ge-veerde geselsers en bokkies.
As dit ge-noeg gereën het, kan jy jou dors by twee helder waterpoele les.




