As ’n toerisme-juffrou ’n suksesvolle reisagent was, is die kans groot dat haar leerlinge beslis daarby sal baatvind.
Matriekleerlinge van Global Leadership Academy op Jeffreysbaai, wat toerisme as vak neem, het onlangs ’n onvergeetlike bootvaart onderneem.
“Die jaarlikse toerisme-uitstappies Kaapstad toe was altyd gewild, maar al ’n bietjie holrug gery. Toe besluit ons om die leerlinge te bederf en eerder hulle op ’n bootvaart te neem,” sê Dedré Breitenbach, toerisme-onderwyser by Global Leadership Academy.
“Van die leerlinge was nog nooit met vakansie nie, selfs nie uit die kontrei nie, of hulle het nog nooit in ’n familierestaurant geëet nie, maar ons het hulle vooraf mooi touwys gemaak.”
Breitenbach het as gids tydens die vaart opgetree terwyl haar kollega Janine Taute al die vooraf reëlings getref het.
Die groep van 30 leerlinge en vier volwassenes het deurnag per bus na Kaapstad gereis om daar aan boord van die MSC Opera, op ’n vaart van drie nagte, binne die Suid-Afrikaanse vaarwaters te geniet.
“Dit was vir die leerlinge ’n behoorlike ontploffing van ervaringe. Een van hulle het gesê dit voel asof hulle in ’n ‘movie’ is. Hulle het die bootvaart gate uit geniet en almal het hulle mooi gedra,” sê Breitenbach na hulle terugkeer.



