Russell Sadler (voor) en skipper Pkee op die oop see by Kaap St. Francis.

Foto: Nick Dimbleby

“Ons het in die water afgesak. Dit was baie troebel, die sig was drie, vier meter voor ons. Toe gaan sit ons doodstil op die bodem en toe . . .”

Dít kan nou klink soos die openingstoneel in ’n rillerfliek, maar vir Russell Sadler, inwoner van Kaap St. Francis, was dit ’n wonderwêreld wat op daardie dag vir hom oopgegaan het.

“Ek dink daar daar was al meer mense in die ruimte as wat daar mense was wat die skouspel van die tjokka se broeiseisoen op die seebodem beleef het, sê Russell wat dié unieke belewenis twee jaar gelede vir die eerste keer beleef het.

Die aanloop tot Russell se belewenis het begin by ’n mariene-fotograaf wat vir Russell, kam- pioen-lewensredder en skipper, gevra het om hom na die seebodem naby die Kromriviermonding te vergesel wanneer hy die tjokka tydens hul broeiseisoen gaan afneem.

Met volle duiktoerusting het die twee op daardie dag afgesak na die bodem en doodstil bly sit sodat die versteurde sand en ander elemente weer kon afsak bodem toe.

Russell sê hy sal nooit die stilte wat hulle omvou het vergeet nie. “Ek kon net die borrels van ons duiktenks hoor.”

Nadat die versteurde sand en ander sediment afgesak en Russell se oë aangepas het by die lig onder die water, was hy in verwondering. “Toe sien ek die veld van oranje vingertjies wat die eiersakkies is van die tjokka.

“Ons het stil bly sit en na ’n rukkie het die tjokka begin uitkom in allerhande kleure soos don-kerrooi, bruin tot spierwit. Almal broeipare.”

Die tjokka-broeiseisoen is Oktober en November.

“Dan kom die tjokka terug in pare. Teen hierdie tyd is die wyfie se eiersakkie al volgroeid in haar mantel. Nadat die mannetjie, wat baie groter is as die kleiner wyfie, die eiers in haar sakkie bevrug het, sak die wyfie af na die seebodem waar ander bevrugte eiers al lê en laat haar sakkie vol bevrugte eiers daar los,” vertel Russell.

Maar tydens die bevrugtingsproses en die lê van die eiers op die seebodem, is die vyand heeltyd teenwoordig. Russell beleef dit elke keer:

“Daar is allerhande vyande wat op die loer lê vir die tjokka-mannetjies en – wyfies, want hulle weet die tjokka is op hul mees weerlose tydens die bevrugtingsproses. Die skeurtandhaaie wag by die eierveld, dan is daar ook die swart pylstert wat soos UFO’s inbeweeg en hul vlerke oor die wyfies sit wanneer hulle hul eiers gaan lê.

“Nadat hulle die wyfie gevreet het, gaan hulle weer ’n entjie weg en wag vir die volgende tjokka-wyfie wat haar eiers gaan lê. Dit is ongelooflik om hierdie drama te kan aanskou – dit is soos om na n fliek sonder klankbaan te kyk. Dit is ’n ander wêreld daaronder.”

Op gewone vlak – veral in dié van die tjokka-vangsbedryf, is dit interessant om op te let dat tjokka-bronne nog so ryk voorkom in die Indiese Oseaan rondom Kaap St. Francis, St. Francisbaai, Jeffreysbaai en Algoabaai.

Russell glo dit hou verband met navorsing en die goeie bestuur van die bron. “Die tjokkaboot-eienaars werk hand aan hand met die weten-skaplikes. Die navorsing word befonds deur heffings per kilogram-verkope wat die booteienaars betaal.

“Volhoubaarheid van enige bron kom neer op goeie navorsing, die raad van die wetenskap-likes te volg en binne die perke bly wat gestel word. Die tjokka-bedryf reguleer homself baie goed.

“Daar is vang-seisoene en geslote seisoene om die tjokka-bron te bly beskerm. En van die geslote seisoene is juis tydens die broeiseisoen sodat die tjokka weer sy getalle kan aanvul. Dit is ook die tyd wanneer ons die wetenskaplikes uitneem na die tjokka-broeiplekke op die seebodem sodat die navorsing gedoen kan word. Ook sodat die tjokka-skouspel verfilm kan word.”

Dit laat ’n mens wonder hoeveel maande van die jaar word tjokka aktief gevang.

“Die oop- of geslote seisone is nie in sement gegiet nie, maar oor die algemeen kan die oop seisoen tot agt maande van die jaar wees. Maar wanneer die wetenskaplikes bevind die bron is onder druk, word die geslote seisoene langer gemaak.

“’n Interessante feit is dat die spesifieke tjokka wat ons hier kry, die tweede gewildste in die wêreld is. Die meeste word na Europa uitgevoer en ’n bietjie gaan na die Ooste.”

Vir Russell, wat sy eie maritieme logistieke maatskappy bedryf, is die tegniese en ekonomiese aspekte van die tjokkabedryf nie so be- langrik as die tjokka-skouspel op Suid-Afrikaanse seebodem wanneer dit die tjokka-broeiseisoen is nie.

“Wanneer daardie tjokka in al die kleure in-kom en jy weet jy is een van ’n paar mense op aarde wat dit kan beleef, dan is dit baie spesiaal. Voor ek twee jaar gelede vir die eerste keer met die mariene-fotograaf afgegaan het, het mense vir my gesê ek sal nie kan glo wat ek sien nie. En ek moet eerlik sê ek kon dit nie glo nie.

“Dit is life changing, ’n mens voel dit diep binne.”

Wetenskaplikes en mariene fotograwe duik gereeld tydens die tjokka-broeiseisoen na die seebodem by Kaap St. Francis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article