’n Tiener van Jeffreysbaai, Noah Glennie (16) het eiehandig ’n strandskoonmaakveldtog begin op die hoofstrand.
As deel van ’n kursus wat sy gedoen het by die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad, moes sy so ’n veldtog reël. Sy moes onder meer pamflette versprei, mense motiveer om deel te neem, en het die Kouga Munisipaliteit se steun gekry.
Dorp van Dromers het ook ingespring. In ’n ommesientjie was daar tientalle deelnemers en sowat tien sakke vullis is net op die hoofstrand bymekaargemaak.
“Die strand lyk skoon, maar dis al die klein items soos stompies, proppies en glas wat gou ’n groot hoop maak,” sê Noah.
Sy beplan om sommer binnekort weer so ’n aksie te loods. Sy doen aanlyn skoolopleiding by Think Digital.
Na skool wil sy studeer en haar beywer vir die bewaring van haaie. Haar wens is dat alle strandbesoekers hulle vullis sal saamneem en in dromme gooi.




