Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Mens is gereeld in geselskap waar gepraat word oor gewoontes, maniere of opvattings.

Dan is daar gewoonlik iemand wat sal sê: “Nee jong, ek het nie so grootgeword nie!” Kinderdae kom dan ter sprake, wat al te dikwels die prentjie duidelik maak oor hoekom mense is soos hulle is – ondanks, of te danke aan hulle kinderdae.

Ek was bevoorreg om ’n ruk lank saam met my niggies en neefs groot te word op ’n plaas in die Olifantsberg-omgewing anderkant Worcester. Vir my was dit ’n heerlike avontuurlike tyd waaroor ek baie dankbaar is.

Ons klompie het onlangs teruggegaan op ons kinderspore in dié omgewing. Die prentjies van tóé is nog so duidelik in my geheue.

Ons het eers Botha toe gegaan waar ons kaalvoet skoolgegaan het by die Laerskool Botha, en waar my tannie Elsa ’n onderwyseres by dié tweeman skool was.

Die skooltjie is nou weliswaar deesdae ’n muurbalbaan, maar tog nog so bekend.

“Onthou julle nog … ,” het tel-kens opgeklink. Hier het ons rounders gespeel, krieket op die tennisbaan, en hier waar nou ’n wingerd is was ’n koolland waar ons gedurig die bal moes gaan soek.

“Kyk, die bloekombome staan nog!” My gesig vertrek van die denkbeeldige eina met stads- kaalvoete op die klippies.

Hoewel baie dinge verander het, is die landskap nog net so beeldskoon. Die bloue berge en welige wingerde.

By Goudiniweg-stasie het ons lank getalm. Weer soos van ouds ’n pakkie ‘deurmekaar swiets’ gekoop. Maar nou is dit in ’n plastieksakkie en nie ’n koerant-horingtjie soos tóé nie. Ons sit op die trappie en deel herinneringe oor Saterdaeoggende se uitstappie stasie toe.

Dis ’n groot hartseer om te sien dat die Goudiniweg-poskantoor toe is. Uit posbus 18 het ek menigmaal briewe en kaartjies en selfs pakkies van tannie Lulu af gekry.

Die besoek aan tannie Lenie Naudé wat al 93 winters deurleef het in die Boland, was inspirerend.

Sy onthou ons hele spannetjie, het ’n heerlike sjokoladekoek gebak en ons het aan haar lippe gehang oor stories van die kontrei.

Ons was ietwat melancholies op die dag wat ons die plaas Moe-dersorg besoek het. Die gawe nuwe eienaars het ons toegelaat om ook daar op ons kinderspore te loop.

Maar waar is die watersloot waarin ons seilbootjies gevaar het, en die dammetjie waar ons in ’n halwe drom geroei en ons soms omgeval het?

Die kamer waarin drie van ons geslaap het lyk dan nou so knap! En die stoep! Vir my was dit destyds as tien-jarige dogtertjie ’n groot stoep. Ons het selfs someraande ons beddens uitgedra en daar geslaap. Nou lyk dit so gewoon, so klein.

“Onthou julle, hier het dit of dat gestaan, en daar het ons so en so gemaak. En waar die pophuis was, is nou ’n braaikamer,” kyk ons almal grootoog na mekaar.

Saans het ons by die gastehuis om die vuur gesit en stukkies van ons lewens uitgepak wat destyds al gevorm is.

Party van ons het net kleurvolle stukkies uitgepak, ander stukkies van ons familielegkaart was effens geskakeerd. Maar saam het ons ’n lieflike motief uitgepak ondanks, of te danke aan, ons kinderdae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article