Terence Gibbon
Terence Gibbon gaan Saterdag probeer om sy eie wêreldrekord te verbeter. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – Die Rugby vir Jesus-projek is Saterdag (21 Maart) terug op Jeffreysbaai wanneer Terence Gibbon gaan probeer om sy eie wêreldrekord vir die aantal opsitte in drie minute te verbeter. Sy rekord staan tans op 185 opsitte.

Terence gaan sy aanslag om 10:00 in die Baptiste Kerk maak waar hy groot ondersteuning verwag. Hy hou reeds die wêreldrekord van 305 opsitte in vyf minute. Die rekords word deur die Guinness Book of World Records en die Elite World Records erken.

Na Terence se poging word ‘n fondsinsameling gehou ten bate van die 7th Heaven-kinderhuis op die dorp. Hy gaan daarna sy geloofsgetuienis lewer.

Terence Gibbon
Terence Gibbon gaan Saterdag probeer om sy eie wêreldrekord te verbeter. Foto: Verskaf

Terence sê dis ‘n wonderwerk dat hy leef.

“Ek kom uit ‘n baie morsige agtergrond. Ek was 40 jaar lank verslaaf aan drank en 20 jaar lank aan harde dwelms. Daar was ook oor die jare baie sake teen my vir dronk bestuur en aanranding, maar Jesus het my hiervan verlos.

“Ek het in 2022 by Andrew Johnson se Rugby vir Jesus-projek aangesluit en is nou deel van ‘n groot groep oud-rugbyspelers wat die Here dien en Christelike toesprake lewer. Dis wonderlik om ‘n tweede kans in die lewe te kry.

“Vir die res van my lewe is Jesus my álles. Ek is geseënd om Hom in my lewe te hê,” sê Terence.

Terence versoek Kouga-inwoners om alle ongebruikte klere vir die fondsinsameling te skenk.

“Daar is tans 16 kinders in die kinderhuis wat geen fondse van die staat ontvang nie. Ons hoop en bid dat die fondsinsameling groot verligting vir hulle sal bring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article