Oom Freek se Huisie tussen die berge op Nooitgedacht. Hier het tyd gaan stilstaan.

Teeblare kan glo gelees word . . . maar die klein stukkies teeblare waarna ek onder in my leë koppie staar, wil nie gelees word nie. Hulle vertel hul eie storie.

’n Storie wat ek met my eie oë en die res van my sintuie, daar doer hoog bo in die allermooi-ste Kougaberge beleef het.

Ná my besoek op Nooitgedacht, die plaas waar die heuningbos geoes word, kan ek nie anders nie om elke keer my Melmont heuningbostee, of bergtee soos dit ook genoem word, met toe oë te drink nie. Want dié aroma neem my gedagtes keer op keer terug na die vroegoggend, sowat 1 200 meter bo seevlak, waar Lorenzo Plank, Taswell Windvogel en Julian Booysen teen steil berghellings met soveel sorg en versigtigheid bondels bergtee oes.

Volhoubaarheid verseker voortbestaan

Met elke kap en trek van die sekel se skerp lem teen die heuningbosteetakkies, ruik jy heilsaamheid. Die manne beweeg so vlugvoetig soos ribbokke teen die steiltes, van een heuningbos na die ander.

’n Mens weet nie wat jy nie weet nie, maar as jy eers weet, verander dit jou dinkdinge én optrede. Ek weet nou met hoeveel passie die teekappers hierdie kosbare bondels gesondheid oes. Ek weet nou dat volhoubaarheid van heuningbos daar in die Kougaberge vir ’n boer en sy gemeenskap van uiterste belang is vir voortbestaan.

Quinton en Eunice Nortje is die vierde generasie wat op Nooitgedacht met heuningbostee boer.

Dit is vir hulle ’n holistiese saak waarin die plaaspersoneel en gemeenskap net so ’n groot aandeel het om toe te sien dat die organiese bergtee steeds ’n oes vir toekomstige generasies sal oplewer. En vir baie jare nog vir hulle ’n inkomste sal bring.

Japanners is gek oor dié tee

Melmont se organiese heuningbostee is erg gesog onder teedrinkers, veral in Japan, Duits-land en Nederland.

Om aan die internasionale markte te kan bly voorsien, moet daar aan ellelange lyste van standaarde voldoen word. Melmont se bergtee slaag jaar na jaar die toets met vlieënde vaandels.

“Teekopers wil net die beste produk hê. Dit bemark ook die maklikste,” sê Quinton.

Hy vertel van verskeie navorsers, plaaslik sowel as internasionaal, wat betrokke is by Melmont heuningsbostee. Dit was juis ’n navorser van Universiteit Vrystaat se chemie-departement, professor Daniel Ferreira, wat dié instansie se taalkunde department genader het vir ’n gepaste naam vir die tee.

“Die naam Nooitgedacht heuningbostee sou nou nie so goed op internasionale markte werk nie. Daarom het hulle met die naam Melmont vorendag gekom.

“Dit is Latyns en Mel beteken heuning en Mont berg. Dit pas mos nou perfek want ons heuningbostee word net in die Kougaberge, oes na oes uit dieselfde omgewing en hoogte bo see-vlak gehaal. Ons meng nie ons tee met enige ander heuningbostee nie.”

Quinton sê ’n heuningbos word elke vierde jaar geoes om die plantjie weer genoeg hersteltyd te gee.

“Die heuningbos kyk mooi na ons – daarom moet ons mooi kyk na die heuningbos.”

Kougaberge se natuurprag

Die Kougaberge lê parallel met die Baviaansberge in ’n ongerepte deel van die Oos-Kaap waar natuurprag jou keer op keer verras.

Op pad na Nooitgedaght kronkel die grondpad deur klowe, ’n geelhoutwoud, bergpasse en oor plato’s waar ’n mens onwillekeurig jou voertuig se rem trap, uitklim en kyk en nogmaals kyk. ’n Foto laat dit wat die oog hier sien, nie tot reg kom nie, jy moet dit beleef.

Dit is hierdie mooi uit die natuur wat ’n mens teen die mure van jou kop se onthoukamer op-hang, en wanneer die onmenslikheid van COVID-19 en die gepaardgaande inperkings jou vasdruk, dan kuier jy in jou geestesoog in hierdie natuurbeelde.

Oom Freek se Huisie

Jy hoef nie ’n teedrinker te wees om die mooie Kougaberge te verken nie. Vir die buite-lugliefhebber en diegene wat met so min as moontlik soveel as moontlik in die natuur wil geniet, is daar ’n hele paar oorblyplekke.

Daar is Ragelsrivier op ’n buurplaas wat plaasakkommodasie en kampplekke bied en op Nooitgedacht self is daar Oom Freek se Huisie.

Hier in Oom Freek se Huisie is tyd vasgevang soos in die dae toe einste Oom Freek en sy Hester en later jare nadat sy weggeval het, tant Sarie daar gebly het. Hulle het swaargekry, maar volhard deur harde werk – uit die natuur geleef en gesorg dat hulle vir die natuur teruggee om volhoubaar daar te kon aanhou leef.

Dit is ook hier waar Quinton een oggend vir tant Sarie in die perskeboord langs die rivier gekry het met oom Freek se kop op haar skoot. Hier het oom Freek die ewigheid ingegaan.

So 100 meter vanaf die ou boord, berg-op, staan Oom Freek se Huisie. Dit is die eenvoud, die geprut van die pot heuningbostee op die gasstoof, die oopswaai vroegoggend van kombuis-bodeur om na die gekok-kok-kok van die loerie uit die bos te luister wat ’n gejaagde gemoed hier stil maak.

En al hou oom Freek se oë uit sy geraamde portret teen die muur jou dop, weet jy, dit is oukei.

Om te leef en te laat leef, met respek teenoor ander te leef, om dit wat die natuur jou bied, op te pas, volhoubaarheid … dit is die storie wat die heuningbosteeblare onder in my koppie vertel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article