Die beskuldigde in ’n saak waarin ’n agtienjarige man trompop met ’n vuurwapen in 2019 doodgeskiet is, het Dinsdagoggend kalm en beheersd in die beskuldigdebank gesit en luister na sy vonnisoplegging in die Humansdorpse Streekshof.
Jermaine Daniel (alias Nokies) Tamboer (36) het skuld beken ná ’n hofstryd van bykans drie jaar ná die moord op Jeremia Benjamin (18) op 27 Maart 2019.
Alhoewel die saak uitgestel was op versoek van die verdediging, het Tamboer se regsverteenwoordiger, advokaat Deidre Dickson, egter aangedui dat hulle nie verdere getuies gaan roep nie omdat hy skuld beken het op alle klagtes.
Sy het ter strafversagting genoem dat Tamboer sonder ’n pa groot geword het en dat hy werksaam was en ’n bydrae gelewer het in die gemeenskap.
Sy het in haar pleidooi gevra dat die hof van die voorgeskrewe straf van lewenslange tronkstraf afwyk.
Die staatsaanklaer, Johan Jansen, het in sy spreekbeurt genoem dat Jeremia maar 18 jaar oud was toe hy koelbloedig doodgeskiet is.
Jansen het verder beklemtoon dat die oorledene se mees basiese reg om te leef van hom ontneem is.
Verder het hy dit duidelik gestel dat die minimum straf van 15 jaar buite die kwessie is.
“Ek wil dit stel dat die beskuldigde ’n lid van ’n bende was omdat hy opgetree het soos ’n bendelid,” het Jansen gesê.
Voorts het hy die hof gevra om af te wyk van die minimum straf in dié verband en vir lewenslange tronkstraf gevra.
Landdros Louisa Du Plessis-Wajid het tydens vonnisoplegging genoem dat sy alle faktore in ag geneem het in haar vonnisoplegging.
Sy het genoem dat Tamboer ten tyde van die misdaad werksaam as ’n taxi-bestuurder was en het R6 000 per maand verdien.
Hy het vorige veroordelings van geweldsmisdryf, alhoewel hierdie saak sy eerste moord-skuldigbevinding is.
Hy het die oorledene vooraf gedreig met die dood en op die betrokke dag twee uur later teruggekeer en hom doodgeskiet.
Sy het ook genoem dat die oorledene weerloos was en nie homself kon verdedig nie omdat hy alleen was.
Sy het die nadoodse verslag voorgelees wat duidelik uitgewys het hoe Jeremiah dood is weens ’n skietwond aan sy kop.
“Die howe word oorstroom deur geweldsmisdaad en die gemeenskap is keelvol en verwag dat die howe die oortreders moet straf, en menige male neem die gemeenskap die reg in eie hande,” het sy gesê.
Sy het ook genoem dat alhoewel die beskuldigde kwaad was vir die oorledene op die betrokke dag, het hy eers die oorledene met die dood gedreig en twee uur later teruggekeer en sy dreigement uitgevoer.
Sy het genoem dat Tamboer deurgaans tydens die verhoor geen berou getoon het nie.
Met vonnisoplegging het sy genoem dat alhoewel die beskuldigde op 19 Maart 2019 verhoorafwagtend was, dit egter nie ’n rol gespeel het in die vonnis nie.
Sy het dit benadruk dat met voorafbeplande moorde lewenslange tronkstraf van toepassing is.
“Ek is egter verbaas dat die korrektiewe verslag korrektiewe toesig voorstel,” het Landdros Du Plessis-Wajid gesê.
Sy het Tamboer soos volg gestraf: 20 jaar vir moord, vyf jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en twee jaar vir die besit van ammunisie.
Klagte twee en drie sal samelopend wees, dus is Tamboer tot ’n effektiewe 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Sy het genoem dat hy mag appelleer teen die vonnis indien hy so voel.
Die oorledene se tante, Janine Jafta (36), het ná afloop van die uitspraak in die hofgange onbedaarlik gehuil en aan Kouga Express gesê dat hulle as familie glad nie tevrede is met die vonnis nie en van mening is dat Tamboer eerder lewenslange tronkstraf opgelê moes word.



