DIE Kouga-raad het die munisipaliteit se bedryfs- en kapitaalbegroting vir die nuwe boekjaar op 31 Mei goedgekeur.
Kouga-burgemeester Horatio Hendricks sê die raad wou ‘n pro-arm begroting saamstel en dat goeie vordering in hierdie opsig gemaak is.
Die munisipaliteit se nuwe boekjaar begin op 1 Julie.
TARIEFVERHOGINGS
Eiendomsbelasting styg met 7,5% in die nuwe boekjaar.
Die watertarief vermeerder met 11%, sanitasie met 9%, vullisverwydering met 8%, elektrisiteit gemiddeld 7,57% en die Omgewingsbestuurfooi (OBF) met 6%.
BEDRYFSBEGROTING
- Die totale bedryfsuitgawes vir 2018/19 is R796,785 miljoen. Dit is ‘n styging van 5,48% in vergelyking met die 2017/18 wysigingsbegroting.
- Die totale bedryfsinkomste is R753,717 miljoen. Dit is ‘n styging van 9,39% of R64,69 miljoen in vergelyking met die wysigingsbegroting.
- Die begroting word hoofsaaklik befonds uit dienste soos elektrisiteit, water, sanitasie, vullisverwydering en die OBF (53,04%), eiendomsbelasting (23,45%) en toelaes en subsidies van die provinsiale en nasionale regering (16,4%).
- Die begroting maak voorsiening vir personeelkoste van R272,8 miljoen. Dit is 34,24% van van die totale bedryfsbegroting en binne die norm wat deur die Nasionale Tesourie gestel word.
- Die herstel- en onderhoudsbegroting beloop R37 miljoen. Dit is 4,65% van die bedryfsbegroting. Alhoewel dit onder die raad se teiken van 8% is, sal die geld spandeer word waar dit die nodigste is. Ten minste 71% sal vir infrastruktuur gebruik word.
BURGEMEESTER BESPAAR
Kouga-burgemeester Horatio Hendricks het belowe om streng hok te slaan teen onnodige uitgawes ten einde meer geld vir dienslewering beskikbaar te stel.
Volgens die burgemeester, sal h yen die Speaker nie nuwe voertuie of drywers kry nie.
“Die burgemeester sal sy eie motor bestuur en die Speaker sy eie motor. Daar sal ook nie betaal word vir lyfwagte nie,” het hy in sy begrotingsrede gesê.
Die getal lede op die burgemeesterskomitee is ook verminder vanaf ses na vyf ten einde koste te bespaar.
RAAD WIL INKOMSTE GROEI
Die Kouga-munisipaliteit beoog om allerlei weë te ondersoek om meer geld vir die opknap van infrastruktuur en uitbreiding van dienste in te win.
Volgens Kouga-burgemeester, Horatio Hendricks, beplan die raad om munisipale grond te verkoop wat nie benodig word vir dienslewering nie.
‘n Komitee is ook tot stand gebring wat weekliks ontmoet ten einde te identifiseer hoe die munisipaliteit se inkomste verhoog kan word sonder dat belastingbetalers verder belas word.


