Suster Soekie Strydom behandel allerlei voet- en toonnaeltoestande in die gemak van jou huis. Sy vat van swamme en liddorings, tot ingroeitoonnaels en verdikte, gebarste hakke vas.

Foto:VERONICA FOURIE

Lelike toonnaels is vir ’n mens ’n verleentheid. Dit word dikwels weggesteek in toe skoene of onder naelpolitoer, wat net die toestand vererger.

En voor jy weet, het die een siek toon al die ander aangesteek. Allerlei rate word gebruik, wat selde help.

Dis ’n probleem wat algemeen voorkom, en tog is mense huiwerig om behandeling te soek.

Suster Soekie Strydom het die kuns bemeester om nie net siek swam geinfekteerde toonnaels gesond te maak nie, maar ook om klaar te speel met pynlike liddorings, ingroeitoonnaels, soolvratte, gebarste en verdikte hakke en selfs papegaaibek tone.

Met die grootste geduld sit sy met haar gereedskapkas en gaan versigtig te werk met haar instrumente om voete weer spoggerig te kry. Sy gee raad oor medikasie en die regte versorging van voete. En dit alles by jou huis!

“Dit is my passie om aan mense se voete te sit en ’n diens te lewer. Ek fokus graag op diabete omdat hulle voete ’n groot risiko vir infeksie het. Baie bejaardes het niemand om hulle te help toonnaels knip nie, of kan nie bykom nie. Selfs na operasies sukkel mense om voete te versorg. Ek doen dit graag!” sê Suster Soekie, in haar verpleeguniform.

Sy was jare lank ’n verpleegkundige. Dis toe sy pasiënte se bloed moes trek terwyl sy by ’n pulmonoloog gewerk het, dat sy bewus geraak het van die swak toestand waarin baie bejaardes se voete is.

“Hulle was soms so gedehidreerd dat ek bloed by die voete moes trek. Dit het my genoop om met die voetbehandelings te begin. Dis nou reeds sewe jaar dat ek die diens verrig.”

Strydom verduidelik, “Dit is beslis nie ’n pedikuur of skoonheidsbehandeling nie, maar ’n mediese behandeling. My raad aan mense is om so gou as moontlik hulp te kry, om die genesingsproses te versnel.”

Daar is talle oorsake vir voet- siektes, soos beserings, toe skoene, sportskoene en openbare swembaddens of storte. Om dieselfde skoene dag na dag te dra, gee swamme makliker ’n broeiplek. “Dis die beste om daagliks skoene te wissel, en die uitgetrekte skoene ’n dag lank in die son te laat staan,” sê Strydom.

“Ek wil graag mense help om hulle beste voetjie met selfvertroue te kan voorsit. Dis ’n spe- sialis-behandeling, en glad nie ’n skande nie. Baie het ’n voettoestand, maar praat nie daaroor nie. Daar is hulp vir die ergste voete!”

Die voete word eers geweek en dan sagkens behandel met haar instrumente en olie. Sy sal medi-kasie aanbeveel wat toepaslik is vir die toestand. Dis wenslik om die behandeling sesweekliks te herhaal totdat die probleem opgelos is.

Suster Soekie Strydom kan by 083 709 9004 gekontak word vir ’n tuisbesoek in die Jeffreysbaai en Humansdorp gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article