Die Suikerbossie restaurant net buite Jeffreysbaai is so eg Afrikaans soos die pampoenkoekies wat ’n mens sommige Sondae daar te koop kry. Kouga Express korrespondent Joane Azenhahet daar gaan kuier om meer oor hierdie juweel uit te vind.
Met die oogopslag lyk die restaurant soos ’n ou plaashuis wat van altyd af nog daar was. Die prentjiemooi voorkant word geraam deur pragtige inheemse plantegroei, ’n groen grasperk en selfs hulle eie wingerd, wat sommer net vir die lekker-eet daar groei.
Daar is heerlike speelplek vir kinders buite die restaurant. Daar is ’n klimraam, swaaie en fonteinblad om die kinders besig te hou terwyl ouers hulself vereenselwig met die lekkernye wat op die spyskaart te vinde is. Sit jy lank ge-noeg stil, sal jy beslis ’n paar hasies in die tuin sien baljaar, vrolik en opgewek soos die plek self.
Eienaar Riëtte Buchner is oorspronklik van-uit die Gamtoosvallei, naby Andrieskraal, en het dus ’n diep liefde vir hierdie wêreld en sy mense. Sy vertel hoe sy as kind kan onthou dat haar pa sakkies lemoene en ander vrugte langs die pad sou los met ’n houer vir die geld. Verbygaande inwoners sou hulself help en die geld in die boksie laat.
“Die geld het aan die einde van elke dag geklop. Dit was ongelooflik.”
Buchner bedryf sedert Oktober 2019 die Suikerbossie en sy het die “wenresep spyskaart” redelik onveranderd gelaat, omdat die restaurant alombekend is vir sy smaaklike panne-koeke en liplekker melkskommels.
Daar is pannekoeke met verskeie soet en soutvulsels op die spyskaart, van die tradisionele kaneelsuiker tot ’n interessante kombinasie soos hoender en perske wat klink of dit uit Hilda, van 7de laan se resepteboek kom. Dit maak nie saak watter dis jy besluit om te probeer nie, jy is verseker van ’n onvergeetlike ervaring.
Oor naweke bestaan hulle klandisie meestal uit stappers wat die pagtige Kabeljouws-natuurreservaat besoek. Hulle kry ook baie fietsryers, sowel as motorfietsryers. Suikerbossie is die perfekte plek om uit te span na ’n stappie in die natuur of ’n heerlike rit in die vars lug.
Die restaurant het ook ’n heerlike winkel waar plaaslike entrepreneurs ’n platform het om hulle produkte te verkoop. Handgemaakte speelgoed, natuurlike velprodukte, heuning en beskuit is maar net van die vele snoeperye wat daar te vinde is.
Suikerbossie is amper heeltemal rommelvry, en die meeste van hul afval word herwin. Organiese material en oorskietkos word varkkos, en volgens Riëtte het sy maar twee klein plastieksakke vol vullis wat sy elke week moet wegry.
Dis nie net die omliggende omgewing wat groen is nie, maar die restaurant self dra by tot die beskerming van die inheemse natuurskoon wat daar te siene is.
Sedert haar oorname het Riëtte wel een merkbare verandering aangebring, en dit is dat die restaurant nou ook Sondae oop is en jy ’n heerlike bord gekookte boerekos daar kan kry vir Sondagmiddagete. Die plek sou dit tog nie sy naam gestand doen daarsonder nie.
Soos die liedjie lui:
Sy kan nie kos kook nie, haar kos is rou;
sy kan nie tee maak nie, haar tee is flou;
sy kan nie brood bak nie, dis als verbrou:
tog wag ek, Suikerbossie, net vir jou!
Ter afsluiting: indien jóú Suikerbossie dalk van die soort is wat nie kan kosmaak, brood bak of teemaak nie, gaan besoek gerus die Suikerbossie restaurant, dit is beslis die moeite werd.
Suikerbossie se eie pampoenkoekie resep:
Vir die koekies:
Meng 2 koppies gaar pampoen met:
1 koppie gesifte bruismeel
2 tl bakpoeiet
½ tl sout
1 geklitste eier
Skep lepelsvol in warm olie en bak tot goudbruin
Vir die sous:
Verhit ¾ koppie melk en voeg 3 tl Meelblom (Maizena) by.
Kook saam.
Voeg nou 3tl botter en 1 koppie suiker by.
Laat dit weer saam kook tot verdik.
Gooi warm oor koekies en bedien.



