Strandstoei word gewild in Suid-Afrika. Foto: Verskaf
Strandstoei word gewild in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – In ‘n dramatiese wending is die Suid-Afrikaanse strandstoei-kampioenskappe van Gqeberha na Jeffreysbaai verskuif.

Sowat 300 stoeiers sal op 28 en 29 Maart sake op sand uitspook. Die skuif is weens finansies genoodsaak.

Die president van die OP Amateur-stoeivereniging, Wouter Nell sê: “Ek moes net die beste opsies neem ter wille van die sport. “Ek is egter dankbaar dat alles nou gefinaliseer is.”

Die kampioenskappe sou aanvanklik by The Willows buite die Baai aangebied word, maar die stoeivereniging sou tonne sand moes aanry en dit agterna weer verwyder. “Dit sou die unie baie werk en ‘n groot klomp geld uit die sak gejaag het,” sê hy.

Strandstoei is besig om gewild te word in Suid-Afrika. Foto: Verskaf
Strandstoei is besig om gewild te word in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Toe is daar probeer om die aksie na die Pier by Hobiestrand te skuif waar ‘n groot aantal toeskouers teenwoordig sou wees, maar dié plan het ook deur die mat geval. Dis toe dat Nell uit noodweer na Kouga se munisipaliteit uitgereik het.

“Ek het voor hulle komitee verskyn en is onmiddellik met ope arms ontvang. “Alles het goed afgeloop en ons het die groenlig gekry.

“Ons is baie dankbaar vir die geleentheid om op Jeffreysbaai se strand te stoei en wil hulle met opwindende stoei bedank. “Ek glo dat ons ook daar ‘n groot aantal toeskouers sal kry wat die dorp se geldkoffers ‘n lekker hupstoot sal gee,” sê hy.

Die span wat die OP sal verteenwoordig word binnekort aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article