Familielede van Clyde Stuurman, Kayleen van Wyk en Lucretia Stuurman, Dinsdag buite die hof. Foto: Anthony Augustus

Die borgtog-aansoek van Donovan Wolf is Dinsdag in die Humansdorpse landdroshof uitgestel.

Wolf staar klagte van moord in die gesig ná die dood van Clyde Stuurman (26) vroeër vanjaar op Jeffreysbaai.

Advokaat Terry Price tree in opdrag van Advokaat Alwyn Griebenouw as Wolf se regsverteenwoordiger op.

Wyle Clyde Stuurman. foto: VERSKAF

Kouga Express het vroeër oor dié saak berig toe daar buite die hofgeboue in Humansdorp teen borg vir die verdagte betoog is.

Wolf se regsverteenwoordiger het op 14 April ’n dringende aansoek vir borg by die hooggeregshof in Gqeberha (Port Elizabeth) gebring waar hulle egter onsuksesvol was. Wolf se verdediging het teen die regter se bevinding geappelleer. Die hooggeregshof het toe die saak weer na dié hof op Humansdorp verwys op versoek van die verdediging.

Dinsdag het Wolf in die beskuldigdebank stelling ingeneem.

Die staatsaanklaer, Vicky Rossouw, het twee verklarings van die noodpersoneel wat eerste op die toneel was ten tyde van die moord op Stuurman, gelees.

In albei verklarings is genoem dat hulle geen mes of wapen by die oorledene gewaar het nie.

Die verklarings was as bewystukke by die hof ingedien.

Advokaat Price het aan die hof genoem dat hulle gebruik gaan maak van kundiges en het beklemtoon dat sy kliënt die reg tot ’n regverdige borgverhoor het.

Die saak is uitgestel tot 4 Mei vir die verdediging om verklarings te bekom. Die verdagte bly tot dan in aanhouding.

LEES OOK: STUURMAN MOORD-VERDAGTE BORGAANSOEK MISLUK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article