STRENGER beheer oor die vervoer van vee in dele van die Oos-Kaap waar bek-en-klouseer aangemeld is, kan ingestel word nadat dit as beheergebiede verklaar is.
Die provinsiale departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming en die nasionale departement werk tans saam om dit in werking te stel, sê dr. Cebisa Mnqeta, direkteur van die Oos-Kaapse departement se veeartsenydienste.
Hy glo dié stap sal owerhede meer beheer gee oor vee wat vervoer word en wetstoepassers in staat stel om op te tree in gevalle waar regulasies oortree word.
Mnqeta het Maandag Humansdorp saam met Nonceba Kontsiwe, LUR vir Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming, besoek waar hulle met kommersiële en opkomende boere vergader het oor die uitdagings wat met bek-en-klouseer gepaard gaan.
Die eerste geval van die siekte is einde April op ’n beesplaas op Humansdorp bevestig. Tans het 22 plase tussen die Kouga- en Koukamma-munisipaliteit die siekte aangemeld. ’n Enkele plaas naby Oos-Londen se diere is ook positief getoets vir die siekte.
Mnqeta sê die situasie in Oos-Londen blyk onder beheer te wees, maar daar heers groot kommer oor die verspreiding van die siekte in die Humansdorp-streek. “Ons versoek boere om nie hul vee onnodig te skuif nie en opnuut te kyk na die verskerping van biosekuriteitsmaatreëls wat die verspreiding van die siekte sal help voorkom.”
’n Verbod op die vervoer van die diere met gesplete hoewe is tans van krag in die Kouga-munisipaliteit en dele van die Koukamma-munisipaliteit. 48 plase is onder kwarantyn.
Kontsiwe het op haar beurt boere gevra om nie paniekerig te raak oor die uitbreek van die bek-en-klouseer nie, en gesê veeartse sal hulle deur die tydperk bystaan. Hoewel die omvang van die ekonomiese impak weens die siekte nog nie bepaal is nie, sê Kontsiwe dat kommersiële boere se veeuitvoere jaarliks sowat R600 miljoen inbring. Sy sê R200 miljoen hiervan is gered danksy die eerste besendings vee wat vroeër die jaar uitgevoer is voordat die siekte waargeneem is, maar dat dit blyk die res van die inkomste gaan verlore wees aangesien die vee nie onder die omstandighede uitgevoer kan word nie.
Zilindile Blouw, bestuurder van ’n gemeenskapsmelkplaas in Witteklip, sê die siekte het hul melkproduksie reeds begin lamlê, wat ook tot ’n afname in inkomste lei. Hy sê uit die 570 beeste het 410 die siekte opgedoen. Hul melkkudde bestaan uit 290 beeste, waarvan 161 ernstige simptome het.
“Uit die 290 diere was die (melk)produksie 3 800 liter per dag. Nou stuur ek slegs tussen 1 200 of 1 400 liter melk per dag aan (die kopers).” Blouw wys daarop dat hy ondanks die afname in inkomste steeds die werkers en verskaffers moet betaal. Hy hoop die regering sal ten minste help met voer vir hul diere, veral vir die wat sukkel om te wei weens die siekte.
Kontsiwe het egter gesê die departement se begroting is uiters beperk en daar is tans geen bespreking oor enige vergoeding vir diere nie. Veeartse bied wel behandeling vir die vee en inentings word toegedien om die verspreiding te beperk.





