Dis vanjaar die derde keer dat die Senior Burger Koor op Jeffreysbaai gaan optree, en daar is nou meer seniors van meer dorpe wat gaan saamsing by die massa-optrede.
Altesaam 159 lede gaan deelneem aan die sangfees. Hulle kom van Jeffreysbaai, Gqeberha, Burgersdorp, Oos-Londen, Graaff-Reinet, Steytlerville, Despatch, Grahamstad, George,
Adelaide, Bedford, Kenton-on-Sea, Boesmansrivier en Cradock.
Die lede oefen die musiek op hulle dorpe, en kom sing dan saam in die massakoor.
Die sangfees se tema is dié jaar “diere plesiere”. Die koor sing ’n verskeidenheid bekende liedjies en die gehoor kry ook kans om lekker saam te sing. Benewens die vrolike koor, sal daar ook ’n hele paar soliste optree. ’n Saxofoon speler, mondfluitjie en konsertina sal te sien wees.
Die televisieprogram Met ’n huppel in die stap kom maak vanjaar ’n opname van dié unieke koor.
Die optrede is op 7 September om 11:00 by die NG Kerk Kompleks op Jeffreysbaai. ’n Sagte kollekte sal gehou word.




