DIT was ‘n vrolike kuier om die Ninas-tafel, maar die doel van die gesels was meer gewigtig toe die Kouga Express die span van die Paul Steyn Foundation ontmoet het.

Die imponerende duo stap van Pretoria kuslangs na Kaapstad – ‘n stuk of 3 000 km oor vyf maande – om mense bewus te maak en fondse in te samel om geamputeerdes weer aan die loop te kry.

Amputees Mike Minnie en Paul Steyn het op 26 June, vanjaar die pad gevat, en reeds talle mense se lewensgehalte ingrypend veran-der deur vir hulle prosteses te gee.

Lourens Delport is hulle agterhoede met die voertuig, neem van foto’s en om die hommel-tuig te hanteer.

Tydens ons gesels was stigter van PSF Paul aan’t herstel na ‘n operasie vir ‘n abses agter sy knie. Die dokter het aanbeveel dat hy van sy prostese moet af en rus. Hy sluit weer aan die einde van Oktober by die span aan.

Daniël Benson, Gemeenskapsdienste portefeulje raadslid, het die span kom bemoedig en ondersteun. Mike se ouers, Dennis en Elsie, was om die tafel, en Scott Botanile, werker by Caltex in Jeffreysbaai wat ook ‘n ledemaat verloor het.

Lourens vertel hoe hulle van Pretoria na Nelspruit, toe St Lucia, Richardsbaai, Durban af gestap het, en hulle in Jeffreysbaai oppad na Kaapstad bevind. Hulle beoog om op 24 November die staptog daar te eindig.

“Ons het reeds ses bene (elk R100 000) weg-gegee, en beoog om ‘n verdere vier uit te deel en so mense se lewens heeltemal te verander,” sê Mike. “Ons wil een skenk wanneer ons Jeffreysbaai verlaat. Dit bemagtig mense wat ledemate verloor het en bring selfvertroue.”

Die meelewing van die manne boesem vertroue in, en dit is duidelik dat hulle mense in dieselfde posisie terug op hulle voete wil sien.

Hul deursettingsvermoë en vasbyt beïndruk, want dit neem soveel meer stamina en uithouvermoë as ‘n tweebenige om deur te druk. Hulle demonstreer ook aan die publiek hoe mobiel prostreses hulle maak

Paul het sy been as 13-jarige verloor na ‘n trekker/grassnyer-ongeluk by die skool. Mail & Guardian het Paul as een van die 200 mees invloedryke manne onder 35 in 2018 vermeld.

Mike het sy been weens ‘n motorfietsonge-luk verloor.

Die stappery sit nie in elkeen se broek nie: die weer speel nie altyd saam nie, dis ysterwerk en die skaafplekke en moegheid is soms oorweldigend. Boonop praat hulle by skole, kerke en gemeenskaporganisasies, is ver van hul gesinne en slaap in vreemde beddens.

Die dapper stappers maak staat op donasies vir die duur prosteses. Meer as ‘n 1 000 mense wag vir ledemate.

Om die ‘Onward To Walking a Million Miles’ te ondersteun, SMS ‘walk’ na 38021 en skenk so R10. Besoek http://www.paulsteynfoundation.org.za. Hulle is ook op Facebook, Twitter en Instagram.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article