DIE kans dat net één uit ’n honderd duisend mense ’n perfekte stamselskenker vir hom kon wees, het skraal gelyk vir ’n bekende sitrusboer van Patensie. Dis al manier hoe Lourens Ferreira (75) se bloedkanker (leukemie) hok geslaan kon word.
Die kanker het hom bekruip deur ’n groeisel soos ’n moesie aan sy been, wat toe geïdentifiseer is as ’n melanoom. ’n Kaapse professor besluit ’n stamselskenker moet gevind word. Na intensiewe voorbereiding van chemo en bestraling het hy op 7 Desember 2000 die oorplanting gekry.
Na ’n paar maande was die chroniese millinoïede (leukemie) terug. Hy het die tweede keer ’n oorplanting van dieselfde skenker gekry.
Die skenking en duur medikasie van oorsee het hom genees van die kanker asook hepatitis B wat nie verwant was aan die oorplanting nie. Die professor meen Lourens is ’n wonderwerk weens die sukses van ’n nie-verwante stamselskenker.
Gaandeweg het Lourens die behoefte gehad om die skenker, wat vir hom ’n verlengde kwaliteit lewe moontlik gemaak het, te ontmoet. Die reëls van die Suid-Afrikaanse Beenmurg Register was dat die die pasiënt en skenker mekaar vir vyf jaar nie mag ontmoet nie – vandag drie jaar. Dan mag die skenker en pasiënt anonieme kontak hê, en daarna mag die pasiënt ’n ontmoeting aanvra wat deur die Suid-Afrikaanse Beenmurg Register gefasiliteer word.
Skenker was onbaatsugte jong vrou
Ilza Wiechmann (43) was ’n getroue bloedskenker vandat sy sestien jaar oud was. Na ’n televisieprogram was sy geïnspireer om ook stamselle te skenk. Net een buisie bloed was getrek sodat sy kon geregistreer as ’n skenker.
Groot was haar verbasing toe sy op twintigjarige ouderdom die oproep kry dat sy ’n moontlike pasmaat vir ’n pasiënt is en die skenking sou gaan doen by Constantiaberg Hospitaal in die Kaap indien sy ’n perfekte pasmaat is. ’n Klomp toetse is gedoen om seker te maak dat sy die perfekte pasmaat is en dat sy 100% gesond is.
“Dit is byna soos bloedskenking, daar is net ’n drup aan albei arms. Bloed word uit die een arm onttrek. Dit gaan dan deur ’n masjien wat die stamselle van die res van die bloed skei. Daarna gaan die res van die bloed weer terug in jou liggaam. Die tydsduur wissel gewoonlik van sowat ses tot agt ure.”
Dankbaarheid uitgebeeld met ta-
toëermerk
Lourens wou so graag vir haar ’n geskenkie van dankbaarheid gee. Hulle het ge-epos, en hy het vir haar geld gestuur om haarself te bederf.
“Omdat dit vir my ’n emosionele saak is, het ek ’n tatoëermerk van Tafelberg (wat Kaapstad simboliseer), met sonneblomme (wat die Sunflower Saal simboliseer) en die skenkingsdatum van 7 Desember 2000, op my voorarm laat doen. Ek is nou trots om vir mense te verduidelik wat dit vir my beteken as ek gevra word,” sê die merkwaardige vrou.
Sy het aangehou bloed skenk tot in haar dertigerjare, maar opgehou weens ’n ystertekort.
Uiteindelik die groot ontmoeting
’n Ontmoeting tussen die twee was in 2020 beplan, maar kon ongelukkig nie voortgaan nie, as gevolg van COVID. Daarna het SABMR se maatskaplike werker – Marzelle Bothma – sedert Julie 2023 twee verdere pogings aangewend sodat Lourens die engel wat sy lewe gered het, kon ontmoet. Die derde keer het hulle die knoop deurgehak!
Lourens en Ilza het mekaar oplaas laas naweek ontmoet by Lourens se huis op Jeffreysbaai. Ilza het van Pietermaritzburg gekom, en Marzelle van Kaapstad om die ontmoeting te fasiliteer.
“Ek was baie senuagtig! Vroeër het ek weens emosionele redes nie kans gesien nie en was bang die skenking sou nie suksesvol wees nie. Maar nou is ek meer volwasse en baie bly my pa, Lesley van Rooyen, het my ondersteun. Dit voel of ek nou afsluiting het en is dankbaar dat ek ’n verskil in iemand se lewe kon maak,” sê Ilza, ’n persoonlike assistant by ’n finansiële adviseur.
Lourens en sy vrou Judy het met gulhartige gasvryheid die gaste ontvang.
“Dit is nou vir my so lekker om Ilza te ontmoet.Ek het haar sommer ‘n druk gegee, en is baie dankbaar dat sy oor my pad gekom het. Daar is ’n spesiale band tussen ons. Nou voel ek tevrede,” sê die agtermekaar afgetrede boer.
Die fasiliteerder, Marzelle, sê, “Dis regtig selde dat so ’n ontmoeting plaasvind, alhoewel daar baie suksesverhale is. Dis vir ons ’n wonderlike positiewe storie dat hulle mekaar na 24 jaar sedert die skenking kan sien. Dis baie emosioneel, en almal is diep dankbaar.” Sy sê grappenderwys om ’n perfekte skenker te kry is so goed soos om getroud te wees, of om ’n identiese tweeling te wees.
Pa is ’n steunpilaar
Lesley (76) sê hy het 22 jaar lank bloed gesenk, maar moes op 70 ophou weens velkanker. “Ek sou baie graag wou aanhou. Ek is baie trots op my dogter. Dis ’n fantastiese ding wat sy gedoen het! Dit is beslis die hoogtepunt van haar lewe om iemand se lewe te red. Daar kan nie ’n hoër hoogtepunt wees nie!”
Marzelle Bothma van die SABMR in Kaapstad sê ’n skenker word gewoonlik genader as die pasiënt se dokter ’n beenmurgskenker aanvra waarna SABMR se databasis van skenkers gefynkam word.
, ’n Skenker kan net drie keer in sy/haar lewe stamselle skenk.
, Dit kan net vir dieselfde pasiënt wees, omdat dit so raar is dat twee mense so presies pas.
, Die skenker moet 100% gesond wees. Sorgvuldige toetse sal dit bevestig.
, Die persoon kry vyf dae voor die skenking inspuitings om die stamselle te “mobiliseer” sodat dit vrylik beskikbaar is in die bloed.
, Dit is baie raar dat beenmurg aangevra word, maar eerder stamselle waarvan daar na die “mobilisering” oorgenoeg in die bloed vloei. Hierdie metode is makliker met minder risiko’s vir die pasiënt en die skenker.
, Die skenkings kan in verskillende hospitale in Kaapstad, Durban, Johannesburg en Pretoria gedoen word.
, Die skenking is ’n eenvoudige proses, met heeltydse ondersteuning.
, Registreer by SABMR om die databasis van skenkers te vergroot.
, Om te registreer moet ons net ’n smeer-monster van die binnekant van die wang kry om ’n spesifieke chromosoom te toets en die uitslae sal bepaal of jy ’n pasmaat vir iemand sal wees. Die toets word by jou afgelewer en weer deur ’n koerier gehaal. Verdere toetse word gedoen indien die skenker as ’n moontlike pasmaat geïdentifiseer is.
, Daar is geen koste vir die skenker nie.
, Skenkers wat tussen 16 en 45 jaar oud is kan by ons registreer en kan skenk tot op 60 jaar.
, Kontak SABMR by 021 447 8638 of donors@sabmr.co.za of besoek SABMR se webwerf: www.sabmr.co.za



