Met die onlangse buitengewone springgetye wat langs die kus ervaar is, het die see amok gemaak, en ook duine uitgekalwe.
Die see het as’t ware huis skoongemaak en allerhande rommel uitgespoeg. By Kaap St Francis het daar ook ’n verandering op die strand plaasgevind. Hilde Kucera van Jeffreysbaai en haar dogter, Christina van den Bergh (wat hier kuier van Gauteng af), het strandlangs gestap toe hulle op lae bourommel afkom naby die ligtoring, wat klaarblyklik al jare tevore daar toegewaai is.
Vind ’n vonds
Hilde (met BA graad in argeologie en’n klipliefhebber) en haar ewe entoesiastiese dogter, was nuuskierig om ’n opvallende ‘klip’ te ondersoek. Dit blyk toe ’n rooi dakteël te wees tussen ander bourommel wat in lae uitsteek waar die see sand weggespoel het.
Hilde vertel: “Ons weet nie of dit verband hou met die bou van die ligtoring nie. Daar is geen ander geboue in die nabyheid nie. Die bourommel is waarskynlik daar gegooi, en het toegewaai met sand. Dit kan ook moontlik ook rommel van ’n skip wees. Die hele hoop is ook toegegroei.”
“Ons het dadelik probeer kyk of daar woorde op was, en grawe toe vir meer. Ons kon nie sonder die regte gereedskap te diep grawe nie, en het maar met ons hande uitgetrek wat ons kon,” vertel Christina opgewonde. “Ek was so opgewonde om op iets interessant af te kom! Ons het die beste stukke wat ons kon vind versigtig uitgehaal en huistoe geneem.”
Navorsing
Tuis het Christina (’n rekenaarprogrammeerder) dadelik navorsing op die internet gedoen. Dit kom toe aan die lig dat die teëls uit ’n vallei in Marseilles in Frankryk kom, waar daar ’n paar fabrieke was wat teëls gemaak het sedert 1850!
“Dit het my uitstappie sowaar baie opwindend gemaak – om iets besonders en betekenisvol te ontdek. Ek hou van navorsing en om die oorsprong van dinge uit te snuffel,” vertel Christina.
Hulle sal met verdere navorsing die teëls aan die regte plek besorg.
Hoop op nog skatte
Christina sê sy loop altyd kop onderstebo op die strand op soek na iets besonders. “My droom is om eendag “amber gres” op te tel. Dit is ’n waardevolle bestanddeel afkomstig van sperm walvisse wat vir parfuum gebruik word. Op die strand sal dit soos ’n klip lyk en is moeilik om te identifiseer. Dit kan verkoop word teen 40 000 dollar per kilogram!”
Hilde sê sy sal in haar noppies wees as sy nog klipwerktuie uit die steentydperk kan optel. “Ek het al heelwat op die strand teen die duine op Jeffreysbaai opgetel. Daarvoor moet jy ‘n geoefende oog hê.”
Sy sê ’n paar jaar gelede het familielede anderkant die rotse geduik en op ’n diepte van vyf meter op ’n skeepsanker afgekom en dit uitgehaal. Dit is een wat deur plaaslike vissermanne gemaak is deur ’n vorm te gebruik. Dit is aan die Skulpiemuseum op Jeffreysbaai geskenk.





