Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Dit is nou maar eenmaal so dat ons almal wil móói lyk – aanvaarbaar vir die res van die wêreld. Om seker te maak elke haar lê op sy plek, of juis nie, is ’n spieël meestal nodig.

Ons is wel verskillend bedraad, en ons het almal ’n ander mening oor wat nou eintlik ‘mooi’ is. Dié gier het al in die tyd van Aspoestertjie bestaan. Al het die drie susters gedink hulle is beeldskoon, was hulle bekend as die drie ‘lelike’ susters!

En natuurlik het Sneeuwitjie se beweerde skoonheid, die ou ‘lelike’ heks woedend gemaak. Nogal ’n spieël wat kon praat. As ons darem deesdae sulke spieëls kon hê, wat sommer padlangs die waarheid praat, vermoed ek heelwat mense sou minstens sewe jaar ongeluk ervaar nadat hulle die weerkaatsing stukkend gegooi het!

Een van die lekkerste tydverdrywe is wanneer ek êrens moet wag en mense kan dophou. Ek wonder dikwels: “Het die persoon sowaar vandag voor die spieël gestaan en gedink: ‘Sjoe, maar nou lyk ek op my mooiste en beste!’” Natuurlik beoordeel ek volgens my eie smaak, beperkte modekennis en voorkeure. Dit dra mens gewoonlik aan jou kinders oor – net om mettertyd agter te kom hulle het ’n eie identiteit en smaak, en is tevrede met ’n ander voorkoms as wat jy voorgestaan het. My Dr. Kerriekopkind gee klas met modieuse sandale/sloffies.

My ma het altyd gesê mens dra nie wit skoene in die winter nie, en sy het geglo dat jou persoonlikheid in jou skoene sit. En kyk maar…. As iemand se skoene verslons, vuil, afgeloop en oud is, skort daar gewoonlik iets. Nou besef ek dis ’n veralgemening. Van die oulikste mense steur hulle soms min aan skoene – dis vir hulle net funksioneel.

Ek kan my vergaap aan mense, veral vroue, wat die interessantste kombinasies van kleure en items kan bymekaargooi en met selfvertroue dra. Vir iemand anders is dit dalk lelik.

Om oor hare nie te praat nie! Self verkies ek ’n styl wat windbestand is: dit moet maar kan verwaai sonder om sleg te lyk. Maar oeeeee, ek ken vroue wat úre deurbring om hulle hare te tooi met krullers, warm katoeters, haardroërs, spuitgoed, jel en wat nie als nie. En dan, as die wind net ’n slag oor die koppe waai, is alles tot niet en staan die hare elkeen sy eie rigting. Dis selfs die tendens by seuns. Ek sien maar hoe noukeurig my kleinseun sy kuif met jel agtertoe laat swish. Om mooi te lyk.

Daar is vroue wat om die dood nie gesien wil word sonder grimering nie. Die geskilder van die gesig neem ’n ewigheid! Elke potloodstreep, poeierkwas, roompie en verbloemer word met die grootste noukeurigheid aangewend. Maar is dit nou mooi? Vir die betrokke vrou, ja! Iemand anders sal wonder of die vrou wel ’n spieël het.

Mens ontmoet soms iemand wat nou nie so mooi uitgekom het nie.Die neus is te dit of dat, oë is te groot of klein, lippe te dik of dun. Volgens mode tydskrifte ‘lelik’. Maar dan is dit die liefste omgee mens met ’n aansteeklike sin vir humor. Die ‘foute’ raak dan onsigbaar.

Ons is maar geneig om die boek te oordeel aan sy baadjie. Maar dis gelukkig uit die mode.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article