DAAN Compaan (77) van Astonbaai staan met sy rug na die straat, onbewus van verbygaande motors en inwoners – die motorhuisdeur wawyd oop.

Sy oë skrefies teen die fyn stof, sy growwe hande besig met sy nuutste kunswerk en ’n tevrede glimlag pluk-pluk aan sy mondhoeke.

Op die tafel langs hom is ’n vliegtuig, ’n vragmotor sonder wiele – dié moet nog gemaak word – ’n trein met sleepwa, en ’n outydse koets. En stukke hout . . . groot en klein. Toe onder ’n laag houtsaagsels- en stof. Want hier word gewerk – of eerder gespeel.

Elke dag.

Dié voormalige siviele ingeneur en lugmag-kaptein maak vir die afgelope drie jaar speelgoed van hout – alles van prentjies en sonder ’n uur se opleiding.

Wanneer iemand een van sy hangemaakte houtspeelgoed koop, brand die trots en lekkerkry warm in sy binneste.

“Dit gaan nie oor die geld nie, hoewel dit welkom is. Ek wil mense, veral kinders, spesiaal en gelukkig laat voel.

“Dit maak my gelukkig . . .”

Maar Daan het nie altyd houtspeelgoed gemaak nie.

En van hout weet hy maar ‘baie min’. Behalwe dat hy die dennehout van herwinde palette vir sy speelgoed gebruik.

Saadjie

Waar is dié houtsaadjie vir Daan geplant?

By ’n onblusbare lus vir tee en ’n vrees vir hekel en brei – ongeveer drie jaar terug.

Daan lag: “Afgetree en met niks om te doen, het ek gedurig vir ’n koppie tee gebedel. Tot die groot ergenis van my vrou, Elize (77) – ’n kundige op die gebied van brei- en borduurwerk.”

Tot die dag wat sy genoeg gehad het.

Gewapen met ’n bol wol en naalde, was sy vasbeslote om hom te leer hekel en brei.

Maar watwou hekel en brei. Daan het dadelik koers gekies kelder toe.

En híér inspireer ’n eenvoudige prent van ’n ossewa hom om sy hand aan houtwerk te waag.

Twee weke later is sy eerste ossewa van hout klaar.

Vandag kan hy dié ossewa in net twee dae bou.

En ’n koets wat aan die begin ses weke geneem het om te maak, bou hy nou binne twee weke.

Voor hy hom kon kry, maak hy allerhhande speelgoed van hout – selfs vir ’n plaaslike restaurant se speelarea.

Speelgoed

Daan, wat sy lewe lank handig is, glimlag trots: “Die eerste paar karretjies was net blokkies met wiele.

“Toe maak ek ’n vliegtuig (sy gunsteling speelding, van die Spitfire tot die Tiger Moth, en selfs die 707 Boeing) . . . en toe word die eenvou-dige karretjies spoggerige motors.

“Toe volg ses verskillende vliegtuie, ossewaens, trekkers, treine en stoeltjies.

“Elke handgemaakte speelding is uniek en anders – en verander soos dit vorder. Wat as ’n Amerikaanse Hummer begin, eindig dalk as ’n tenkwa.

“En al die foute sit op verskillende plekke – maar net ék weet van dié foute.”

Daan, wat sy werkswinkel van die grond af moes opbou, werk etlike ure per dag in sy moturhuis – besig om te skuur, saag en nuwe speelgoed te maak.

“Die asem is min en die bene wil nie altyd lekker hou nie. Vernaam as ek by die draaibank wieletjies maak. Dan is ek die hele dag op my voete.”

Terapie

Daan, wat sy groot verskeidenheidspeelgoed by die Milkwood-mark agter Fountains Mall in Jeffreysbaai verkoop, sê: “Ek geniet dit vreeslik om die speelgoed te maak. Dit is soos terapie en hou my hande besig en my kop aan die gang.

“As iets verkoop, is ek bly. Daardie ekstra geldjie is ook nie onwelkom nie.

“As dit nie verkoop nie, sal baie kinders Desember speelgoed kry.

“Ek speel defnitief lekkerder as die kinders.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article