‘n Groep Jeffreysbaaiers het kragte saamgesnoer om hul tuisdorp op die wenkaart te sit – en wil graag die hele dorp, Kouga-streek en provinsie by die veldtog betrokke kry.
Jeffreysbaai is Sondag op Kyknet aangekondig as die Oos-Kaap se finalis van Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.
Die groot eindstryd, waar Suid-Afrikaners die geleentheid sal hê om per sms vir hul gunsteling dorp uit die nege provinsiale wenners te stem, vind vanaf 27 Mei tot 1 Junie plaas.
Die finaliste word weekliks op Kyknet se Kwêla aangekondig. Jeffreysbaai is die vierde naam wat bekend gemaak is.
“Die algehele wendorp kry R1-miljoen se gratis blootstelling op televisie en dan kom hou Kwêla ook n groot makietie, met vermaak uit die boonste rakke, vir die inwoners in September,” sê Joe Ferreira, voorsitter van die Kouga Besigheidsforum.
Volgens Ferreira, is die klem van die kompetisie op hoe lekker dit is om in ‘n plek soos Jeffreysbaai te bly.
“Elke dorp het sy ‘potholes’ en probleme. Dis nie waar-oor dit gaan nie. Dit gaan oor die mense en die gees van die dorp; die gevoel van samehorigheid.”
Die Besigheidsforum, Dorp van Drome, Jeffreysbaai Toerisme en Kouga-munisipaliteit het vyf weke gelede met die veldtog afgeskop toe Jeffreysbaai meegeding het om die Oos-Kaapse titel.
Met die provinsiale kompetisie agter die rug en die landswye titel nou op die spel, wil die span graag soveel moontlik ander belange groepe betrek.
“As ons die algehele wenner wil wees, gaan ons baie stemme vir Jeffreysbaai moet trek. Ons beplan dus ‘n groot bemarkingsveldtog om oud en jonk betrokke te kry,” sê Ferreira.
Volgens Kouga se nuwe Speaker Hattingh Bornman, was die Dorp van die Jaar-kompetisie een van die laaste projekte waaraan die ontslape burgemeester, Elza van Lingen, gewerk het.
“Dit was haar vermoë om belange groepe saam te bring wat ons gehelp het om die provinsiale rondte te wen.
“Dit was soos ‘n eerbetuiging aan haar toe Jeffreysbaai op die vooraand van haar roudiens as die Oos-Kaap se wenner aangewys is.”
Die insetsel oor Jeffreysbaai,wat Sondag op Kyknet uitgesaai is, kan besigtig word op Kyknet se Youtube-kanaal by https://youtu.be/07cAZwocjuw
Enigeen wat belangstel om betrokke te raak by die wenpoging, word genooi om n epos na die Kouga Besigheidsforum te stuur by office@kougabusinessforum.com.



