My oorlede pa, Rudolph Bosch, het ’n ding gehad oor sleutels. Hy het daarvan gehou om ’n bos sleutels in sy sak te dra, en dus alleen toegang te hê tot sekere plekke en kaste. Hy het alles toegesluit – tot die kruidenierswarekas.
Miskien het dit hom dalk ’n gevoel van beheer of mag gegee. Dit het die huismense natuurlike gek gemaak. Dit was nou maar eenmaal sy geit.
Hy het ook orals sleutels opgetel. Almal in die buurt het geweet van ‘ou Rudolph’ se tassie vol sleutels. As jy nie in daardie tassie ’n sleutel kon kry wat pas nie, het dit nie bestaan nie.
Ons het goed besef wat die belangrikheid van ’n sleutel was – daarsonder is deure vir jou toe!
Nadat hy oorlede is het ons vier kinders elk ’n versameling sleutels geneem, en dit mooi laat raam. Daarin is sleutels van ons voordeur, die klein telefoonsleuteltjie, groot pophuisdeursleutel, die linnekas se sleutel, ’n soort sleutel van ’n treinkompartement se deur, en ook my skooltas se sleutel – om maar ’n paar te noem.
Op my koffietafel lê die origes, wat gewoonlik ’n geselspunt word.
Toe my kinders klein was het hulle tot vervelens na die kinderliedjie Sleutels van Mynie Grové geluister. Sy sing, “sleutels maak deure oop sodat ons daardeur kan loop. Dan volg sleutels wat jy kan gebruik sodat almal van jou sal hou.
Die eerste een is vir asseblief, vra net mooi my hartedief. Dankie sê jy agterna – so moet jy die sleutel dra.
Die tweede een sluit by dit aan, ‘môre’ wanneer jy opstaan, ‘nagsê’ as jy saans gaan slaap, ‘goeiemiddag, goeienag’.
En dan kom die groot les met sleutels.
“Die mooiste sleutel van die lot, pas op byna elke slot. Dis een van bedagsaamheid, dan het almal vir jou tyd.”
Dink maar net hoe belangrik is die draai van ’n sleutel wat pas in die slot van ’n gevangenisdeur. Die sleutel na vryheid is is kosbaar.
Ek loop nou die dag die opsigter by die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp raak. Hy het tientalle sleutels aan koorde om sy nek.
“Jitte, jy moet ’n baie belangrike persoon wees! Om vertrou te word met so baie sleutels,” maak ek ’n geselsie.
“Ja,” lag hy en trek sy wenkbroue op terwyl hy die spul laat klingel, “Maar dis nou net die ‘key to happiness’ wat nie hier by is nie.” Ons skerts oor die spulletjie.
Vir tien jaar lank al sluit Louis Vosloo elke oggend en elke middag sowat sestig deure oop en toe. Hy weet hoe dit kan lol as ’n sleutel nie pas nie. Oor die jare het hy al ’n stelsel ontwikkel om sommer in ’n japtrap die regte sleutel raak te vat.
Daar is ook die spreekwoordelike sleutel tot sukses en ’n sleutel tot toekoms en wat nie als nie. Die sleutel tot geluk is seker die heel belangrikste sleutel waarna ons almal soek.
Nou wonder mens soms wie loop met die sleutel na jou hart in sy sak rond. Dalk het jy die sleutel tot iemand anders se geluk in jou sak.





