Skulpwinkel al meer as ’n halfeeu ’n baken in die Skulpiesdorp

Isabel van Huyssteen en haar maIsabella Botha in die Skulpiewinkel op Jeffreysbaai waar hulle die mooiste skulpe en pêrels verkoop.

Foto: Veronica Fourie

Vakansiegangers, inwoners van Jeffreysbaai en skulpversamelaars is al meer as vyftig jaar lank bekend met die Jeffreysbaai Skulpwinkel. So ver vasgestel kan word, is dit die oudste skulpwinkel van sy soort wat steeds sake doen in die land.

Die vriendelike eienaar, Isabella Botha, vertel dat sy eintlik 27 jaar gelede opsoek was vir ’n perseel vir haar boetiek. “Dit was absoluut ’n wonderwerk dat dié perseel beskikbaar gekom het. Dit was nog vol skulpe en al die voorraad. Nog voor ek die krag kon laat aansluit, het mense sommer oor die bokse geklim om te koop. Dit was die begin van die seisoentyd en ons kon nie voorbly nie. Ek het besef dié skulpwinkel moet bly!”

Die winkel bestaan egter al van 1969 af. “Die winkel is wêreldwyd bekend. Versamelaars kontak ons dikwels van enige plek om skulpe te bekom, en ons koerier dit dan vir hulle. Intussen het ons uitgebrei met nog skulpwinkels in George, Port St Francis en Victoriabaai. “

As ’n modekenner en jare lank in die klerebedryf, het Isabella besef sy moet haar kennis opskerp. Die ambisieuse en gedrewe vrou het baie geleer uit die boeke van prof. Douw Steyn, en ook by hom self baie kennis opgedoen. Ook by tannie Susantjie van Schalkwyk wat 25 jaar vir die vorige eienaar gewerk het.

Sy gesels gemaklik oor die skulpe en sê Jeffreysbaai het die grootse versameling klein spesie skulpies, en waar daar nou weer groter skulpe aan die Ooskus voorkom, maar minder soorte. “Ons werk baie met skulpversamelaars en -handelaars. Versamelaars is unieke mense. Hulle dokumenteer die skulpe volgens hulle wetenskaplike name, noemname en die plek en tyd waar dit gevind is.”

Almal moet permitte hê. Dis ook onwettig om sommer net skulpe op te tel sonder ’n permit, wat mens by die munisipaliteit of poskantoor kan kry. “Ons verkoop net dooie skulpe. Jy sal ook glad nie seeperdjies in ons winkels kry nie, want dis op die rooilys as ’n bedreigde spesie.”

’n Paar plaaslike mense verskaf skulpe en ander artikels aan die winkels. Wanneer daar groot storms en orkane êrens voorkom, spoel daar verskeie spesies bv. seesterre op die strande uit. Departement van Omgewingsake gee dan opdrag om opruimingswerk te doen op strande. Die skulpe word gesteriliseer en gedroog, en dan kan ons dit aankoop. Dit kom ook hier voor waar seestrome skulpe uitspoel.

Isabella is opgewonde oor die pêrels wat sy wêreldwyd aankoop. “Dis edelgesteentes, God se handewerk. Die winkel se kenteken is die Gesiggie (pansy) blom wat ’n geestelike betekenis het.”

Haar dogter, Isabel van Huyssteen, het ook ’n kop vir sake. Dié slimkop wat nou ’n rekenmeester is, het as dogtertjie as’t ware in die winkel grootgeword. “Ek doen so twintig persent van die tyd rekenmeesterswerk, en tagtig persent van my tyd bestee ek aan die winkel. Ek ken al so baie van die versamelaars en handelaars en klante se smaak. Ek hou baie van die besighede en geniet die atmosfeer daar en om met mense te werk. Desember is my gunsteling tyd!”

Ma Isabella sê dis harde werk. Daar is nie sprake van vakansie en afdae nie. Hulle doen elke dag van die week sake. Verkoopsassistent Tessie Strydom sê, “Dis heerlik om hier te werk. Ons is soos ’n werksfamilie,” glimlag sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article