Septembermaand is Nartjiefeestyd en op 30 September word die dertigste Nartjiefees – een van die oudste gesinsfeeste in die land – weer op die kerkgronde van NG Kerk Loerie aangebied.
’n Nuutjie vanjaar is dat twee ander gemeentes, naamlik NG Kerke Bothasrus en Despatch-Suid saamspan en saam met NG Kerk Loerie hande neem om fees te hou. Dit is die eerste keer dat kerke ’n fees saam aanbied en daar heers ’n wonderlike saamwerkgees tussen die gemeentes.
Om Nartjiefees se dertigste jaar te vier, het die Nartjiefeesspan weer uitstekende kunstenaars gekies wat vanaf negeuur die oggend op die Nartjiefeesverhoog gaan optree.
Kunstenaars sluit in Brendan Peyper (met volle orkes), Lianie May, Elvis Blue, Chris en Elmari Brits en Dillon Lerm.
Kosstalletjies bied ’n groot keuse om uit te kies: sosaties, boereworsrolle, kerrie en rys, suiker en kaneel pannekoek, gevulde soet en sout pannekoek, nagereg, “slap chips”, hamburgers, biltong, droëwors, koeldrank, melkskommels, tannie Joan se tuisgemaakte konfyt en keurige gebak.
’n Besoek aan die pragtige koffiewinkel is ook ’n moet. Groente is reeds vir die groentestalletjie aangeplant en die nartjies begin al “lyfies” kry!
Toegangsfooie, wat die optrede van al die kunstenaars insluit, is R150 vir volwassenes en R80 vir volwassenes. Kaartjies is by die hek beskikbaar.
Kaartjies kan ook vooraf gekoop word – besoek gerus Nartjiefees Facebook en www.nartjiefees.co.za vir inligting hieromtrent. Interkaap verskaf vervoer vanaf Gqeberha en Despatch na en van die fees.
Daar is nog kunsmarkstalletjies beskikbaar (ongelukkig geen kos- en drank stalletjies nie). Stalletjievorms is op die webblad beskikbaar.
- Navrae omtrent die fees kan aan 079 063 4488 gerig word.





