'n Pen en 'n boek.
Foto vir illustrasie doeleindes. Credit: Pixabay

Ek was bevoorreg om betrokke te kon wees by die skryf van drie mense se lewensverhale. Dit is ‘n groot voorreg om saam diep te delf en gedagtes los te wikkel. Ek het bv. saans ure langs ‘n Tjeggiese vriend se siekbed gesit om sy storie te hoor. Dit was aangrypend.

In sy bewerige stem het hy vertel hoe hy en sy vrou met hulle klein seuntjie moes vlug na Oostenryk. Hulle sou dokumente moes saam neem om weer ‘n nuwe lewe elders te begin. Maar as hulle daarmee betrap sou word, sou hulle dadelik in die tronk gegooi word. Met stadige bewegings het hy verduidelik hoe hulle die dokumente tussen die voering van die seuntjie se jassie versteek het en dit weer mooi toegewerk het. Op dié manier kon hulle uiteindelik mettertyd in Suid-Afrika vestig.

Kort nadat ek ‘n punt agter die laaste sin gesit het, is hy oorlede. Sy familie en vriende is baie dankbaar vir die dokumentering van sy lewe.

Niemand anders ken jou storie so goed soos jy self nie. Soms het mens iemand nodig om net te help met die ordening, formaat, taalversorging of selfs inspirasie. Die belangrikste ding is net om te begin! Dit hoef nie noodwendig ‘n boek te wees nie. Partykeer is ‘n handgeskrewe memoir die kosbaarste besitting.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek die belangrikheid daarvan om jou storie neer te pen. Nie net ter wille van jou kinders nie, maar vir almal wat deel is van jou lewe. As mens eers begin, raak jou gedagtes los. Die een ding lei tot die ander, en voor jy weet, het jy by die geboorte begin en trek al by die aftrede. Dit help natuurlik baie as mens dokumente het wat jou herinneringe verfris – soos plakboeke, bokse vol foto’s, skooldinge en mense wat jy van lankal af ken wat weer staaltjies kan vertel.

Ek dink nou bv. daaraan dat my kleinkinders later lekker sal lag om te lees hoe ons gemaak het sonder selfone en rekenaars, en nog verder terug – die geslag wat sonder krag moes oorleef (al herhaal die era hom nou op ‘n manier).

‘n Vrou van Marble Hall, Anné Pretorius, het ‘n baie nuttige boek saamgestel oor Memoires van jou moeder. Daarin is onder meer die begin van ‘n sin wat jou lei na ‘n skatkis van jou herinneringe. Daar is talle inspirasieprikkels wat help om jou storie chronologies te skryf.

Jy kan mos self besluit wat jy wil skryf en wat jy wil uitlaat. Ek weet van iemand wat sy vrou se memoires gelees het, en toe eers besef het sy is as kind verkrag. Dit was vir die familie ook ‘n skok. Dis soms makliker om iets te skryf as te sê. Daar word dikwels gewroeg of jy jou groot geheime moet insluit, al dan nie. Dis gelukkig jou keuse.

Dink maar hoe lekker lees ons aan outobiografieë soos The Long Walk to Freedom, Whitey Basson, Ingrid Jonker, Hykie Berg en talle ander. Dink nou net hoe sal jóú storie opslae maak, of net meer begrip gee vir die mens wat jy is. Begin net. Met ‘n hoofletter. En eindig met ‘n punt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article