Skoonmaak nou enigste uitweg vir bosluisvoël-probleem

Die borde buite Jenny Lottering se klerewinkel in Jeffreysbaai is bevuil met voëlmis. Foto: Cara-Lee Dorfling


HOEWEL bosluisvoël-broeikolonies in Jeffreysbaai deur die munisipaliteit as ’n gesondheidsrisiko beskou word, kan hy in dié stadium niks meer doen as om die gebied waar die voëls broei gereeld skoon te maak nie.

Verlede week het Netwerk24 berig oor sake-eienaars wat keelvol is vir die voëlmis voor hul ondernemings, asook die onhoudbare reuk weens die broeikolonies wat hulle in bome op die vakansiedorp tuisgemaak het. Boonop is dooie voëls en stukkende eiers onder die bome waarin die kolonies broei daagliks ’n onooglikheid en is sake-eienaars dit eens dat die situasie hul klantebasis laat krimp.

Verskeie sakelui, regeringsinstansies en ’n skool het al oor dié broeikolonies gekla, het die Kouga-munisipaliteit aan Netwerk24 gesê.

Jenny Lottering, eienaar van die Jen’s @ Jbay-klerewinkel wat reg onder een van die bome is waarin die voëls broei, het aangevoer sy is op die punt om haar onderneming te sluit weens die finansiële verliese wat sy ly. Sy het sonder sukses verskeie owerhede om hulp genader.

Daniel Benson, raadslid vir gemeenskapsdienste, sê die munisipaliteit het reeds voorheen die bome gesnoei om die situasie te probeer beredder.

“Die voëls skuif eenvoudig na die volgende boom. Daar is ook voëls wat migreer van die gebiede waar die munisipaliteit reeds snoeiwerk gedoen het.”

Verskeie vergaderings is met raadslede, gesondheidsinspekteurs, die parkeafdeling en branddienste, asook die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme se natuurbewaringsafdeling oor die kwessie gehou, maar hulle is ingelig dat die bome nie gesnoei mag word nie omdat dit broeiseisoen is.

Ncedo Lisani, woordvoerder van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, sê die departement is bewus van Lottering se situasie en het in Januarie die gebied besoek.

Die departement het volgens Lisani die munisipaliteit versoek om ’n bestuursplan op te stel vir die stedelike broeigebiede wat deur amptenare geïdentifiseer is. Die plan is nog nie aan die departement beskikbaar gestel nie.

“ ’n Mens kan nie die probleem uitroei nie en net die broeiplekke bestuur deur die bome terug te snoei, veral in stedelike ruimtes en woonbuurte,” sê Lisani.

Volgens Benson het die munisipaliteit wel ’n instandhoudingsplan om die bome te snoei, wat onder leiding van die departement saamgestel is.

“Vir nou word die gebied elke tweede dag van die week, insluitende naweke, skoongemaak en ontsmet. Die munisipaliteit het planne om die bome onmiddellik ná die broeiseisoen te snoei.”

Arnold Slabbert van Wildline, ’n stedelike kleinwildbewaringsgroep, het voorheen gewaarsku dit is onwettig om voëls te steur wat broei en daar mag eers ingetree word as die broeiseisoen verby is, wat na verwagting nader aan die winter sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article