EEN . . . twee . . . drie . . . dekades – maar van das en pak ophang is daar nog geen sprake nie.
Na byna vier dekades by die Hankey Primêre Skool, werk skoolhoof Percival van Rooyen (60) onverpoos om in die lewe van “sy kinders” terug te ploeg. Op 60 is hy steeds stiptelik op sy pos.
Personeellede en leerders het verlede Donderdag sy groot dag met gejuig en dankbaarheid by die skool gevier.
Selfs ’n brandweerwa is ingespan om die ‘eregas’ na die skool te bring waar ’n erewag van kinders op hom gewag het. Leerders het tydens ’n spesiale byeenkoms verskeie liedere aan hom opgedra.
“Dié spesiale gebaar het my sprakeloos – ek weet nie wat om te sê nie. Behalwe: baie dankie,” sê ’n bewoë Van Rooyen wat glo hy die beste beroep gekies het – “om met God se goud te werk”.
“Ek is so dankbaar vir die Here dat Hy my die krag en gesondheid gegee het om vir 39 jaar te help vorm aan leerders by die skool.”
Van Rooyen het in 1979 as ’n groentjie by Hankey begin skoolgee – dieselfde skool waar sy opvoeding as kaalvoet-leerder begin het. “Ek moes in die diepste van winter met die ryp wat wit oor die velde lê, kaalvoet oor die rivier loop om by die skool te kom,” sê hy.
In 1987 en 1992 is Van Rooyen onderskeidelik tot departementshoof en adjunkhoof bevorder, en in 2016 tot skoolhoof.
“’n Mens moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie. En bowenal, moet jy nooit vergeet wat jou ouers en die Here vir jou beteken nie.”
Volgens Van Rooyen geniet hy dit die meeste om deel van die groot skoolfamilie te wees, asook om opvoedkundige vordering by die skool te sien.
Hy glo die sleutel tot hul sukses is die onderwysers se opregte omgee, harde werk en vasberadenheid om aan hul leerlinge se individule onderrig aandag te gee.
“Hier werk ons hard. En elke kind is soos ons eie. Die personeellede is mense met wie ’n mens ’n deel van die wêreld sou kon verander.”
Voor sy aftrede sal hy graag die totstandkoming van spesiale klasse vir kinders met leerprobleme wil sien realiseer.
Maar van uittrede is daar nog geen sprake. “Dit is nog te lekker hier.”



