CHRISTELLE McCabe (62) het tien jaar gelede deur die hekke van die Laerskool Gamtoosvallei op Patensie gestap met ’n klomp doelstellings in haar kop. Nou dat sy die tuig neerlê is selfs méér as dit bereik, en gaan sy tevrede haar aftrede te gemoet.
“Ek het voluit gegaan! Ek is trots op onder andere die plaveisel, die heinings, sportgronde, nuwe skooldrag, badkamers, personeelkamer en die nuwe skoolbussie…om maar ’n paar te noem,” vertel sy tevrede. Dan is daar nog die nuwe pawiljoen, ysterhekke en boorde.
“Hierdie skool, wat 120 jaar oud is, het ’n ryk tradisie. Dit sal beslis nie tot niet gaan nie. In hierdie tyd waar plattelandse skole sluit, weet ek dat dié skool sal bly voortbestaan! Die skool het gegroei tot een van die top skole in die land! Hier is geen negatiwiteit nie.”
Hier is tans 220 leerlinge en twintig personeellede.
As die vyftiende skoolhoof van Laerskool Gamtoosvallei, het sy die passie en entoesiasme van die gemeenskap ervaar. “Niks was ooit onmoontlik of te veel gevra nie. Die ouers het sonder voorbehoud die skool ondersteun,” sê McCabe.
Gedurende die COVID-19 pandemie het McCabe opnuut die samewerking, toewyding en inisiatief van die personeel en ouers gesien toe planne gemaak is om leermateriaal by die leerders te kry. “Ons het pakkies en video’s gemaak, en by winkels en op pale by indraaipaaie gelos. Dit was eintlik pret!”
“Hier, in die Gamtoosvallei, ruik en voel jy die aardsheid van mense. Dié mense glo in die skool! Baie dinge het verbeter en verander, maar die kaalvoetkinders sal nooit verander nie. Skoene is nou eenmaal nie ’n plaasskoolkind se liefde nie!”
Van volgende jaar af sal daar robotika en landbou by Laerskool Gamtoosvallei aangebied word.
Hoof en haar eggenoot maak ’n voortreflike span
Christelle McCabe se man, Hugh, was sewe jaar lank die skool se faktotum. Hy was vroeër voltyds in diens van die ATKV en later Helpende Hand.
“Ek het dit nooit kon dink nie! Maar toe Christelle die pos kry, het ek afgetree, en later hier aangetree.”
Christelle sê hulle het mekaar goed aangevul. “Hy het ’n fyn oog, is prakties en kon my drome help waar maak. Hy kon ook help met administrasie.”
Sy handewerk is oral in die skool te bespeur. In die badkamers het hy ou skoolbanke herwin. Die bankgedeeltes het hy gebruik om die wasbakke in te bou, die sitplekke het rakkies geword, en die ruglening is nou plek vir handoeke. Ook die verfraaiing van die personeelkamer, is sy skepping.
Sy groot trots is egter die roostuin, en meen dis sy nalatenskap vir die skool. Daar is reeds 120 roosbome, volgens die skool se ouderdom, wat vol in blom staan! Jaarliks word ’n nuwe roosboom geplant. “Ek is Tannie Pauline en Oom Connie Muller ewig dankbaar vir die skenking van talle roosbome.” Hy het ook ander bome soos geelhout en penny gum aangeplant. “Ek sou net graag nog ’n tennishuisie wou bou by die skool.”
Toekoms met kleinkind en stokperdjies
Die McCabes verhuis na Gqeberha waar hulle van volgende jaar af hulle kleinkind, Kara-Sofia bedags gaan versorg. Hugh wil ook leerwerk, forelhengel, en Latyn onder die knie kry.
“Ek het by die skool eintlik nooit gewerk nie – net gespeel, en my vrou het my toegelaat!” knipoog hy.
“Ons het meer gekry as die skool. Ons gaan ryker hier weg,” sê Christelle vir oulaas.




