Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Tatoëermerke fassineer my. Ek maak graag geselsies met mense wat dié ‘kunswerke’ op hulle het.

Hier en daar kom ek iemand teë wat sê dis sommer ’n versiering, maar meeste heg ’n diep betekenis aan die simbole of afbeelding op hulle lywe.

Ons weervoorspeller in die Baai, Garth Sampson, het onder andere ’n afbeelding van sy oorlede kind op sy rug. ’n Filmmaker wys my nou die dag sy ouma se verjaardagdatum in Romeinse syfers op die een arm, en sy vrou se naam in sierletters op die ander arm. ’n Vrou verduidelik my anderdag dat die komma-punt leesteken op haar hand, meegevoel betoon met mense wat aan geestestoestande ly of selfmoord gepleeg het.

Van die bekendste afbeeldings is dikwels ’n kopbeen, ’n slang, arend of sfinks. Vir elkeen het dit ’n ander betekenis. Vir party het dit ’n positiewe betekenis van iets wat oorwin is, en vir ander het dit ’n okkulte verbintenis.

Dit is tog ’n manier van kommunikasie en om uitdrukking te gee aan wat vir jou van groot betekenis is. Mens kan aflei dat ’n simbool wat vir een persoon groot betekenis het, vir ’n ander van geen waarde is nie.

As skoolkind kon ek nooit verstaan hoekom ’n mens nou die sogenaamde vredesteken en kopbene op jou tas sou uitgraveer nie. Maar vir ander was dit belangrik om ‘te behoort’ aan die groep wat dit doen.

Dink maar die afgelope Valentynsdag. Mense dra dan graag rooi, en ons weet dat rooi harte die simbool van liefde is. Ons wil deel wees van die gees van die dag. So ook met Kerstyd: ons sit ’n Kersboom met versierings op en gee geskenke.

Talle mense heg baie waarde aan hulle sterreteken. Ander wil hulle geloof uitbeeld deur ’n kruis om die nek te dra of by die huis aan te bring. Ek onthou hoe ’n Sondagskool onderwyser nog verduidelik het dat sy trouring die simbool van ewige liefde vir sy vrou is.

Kunstenaars gebruik simbole in hulle werke. Ons weet dat ’n wit roos reinheid simboliseer en ’n rooie liefde of romanse.

Veldtogte wat een of ander siekte, toestand of gebeurtenis herdenk, word met gekleurde strikkies gesimboliseer. ’n Rooi strikkie dui op die ondersteuning van die veldtog teen HIV, ’n pienk een borskanker (en die pienk materiaal wat om bome gedraai word), en wit vir die verlies aan sig.

So ‘lees’ ons mense se uitkyk op die lewe, hul karakter of sentiment sonder dat ’n woord gesê word.

Party simbole is bloot funksioneel, soos ’n verkeersteken, of woorde wat gevorm word met die karakters van die alfabet. Dan is daar natuurlik tekens wat die mensdom verdeel, as ons byvoorbeeld dink aan die swastika of sekere handgebare.

Grafstene bied vir sekere mense ’n gevoel van nabyheid aan ’n oorledene. Ek het self ’n klein uitstallingtjie van fraai teekoppies wat vir my ’n simbool van my oorlede dogtertjie is.

Kyk net hoe handig is die emoji’s wanneer ons selfoonboodskappe skryf. Sonder lang omskrywings ‘lees’ ons die skrywer se emosie of bedoeling.

Die konnotasie wat ons aan simbole gee, gee mag daaraan. As die mensdom net kan hou by simbole wat verenig en nie verdeel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article