MET die intrapslag word gaste gegroet deur die rooilip-glimlag van eienaar, Heidi Muller, wat nog altyd gedroom het daarvan om ’n padstal te besit.
Sy het in November 2006, eindelik hierdie droom bewaarheid en so het Padlangs in Patensie tot stand gekom.
Nou, amper 15 jaar later is die liefde en harde werk waarmee sy die padstal en restaurant opgebou het, tasbaar.
By Padlangs is een van die eerste dinge wat opvallend is, hoe kindervriendelik die restaurant is.
Daar is vir kinders heerlike groen gras om te hardloop, ’n sementblad met water wat spuit om die snikkende Patensie-hitte te breek, fietsies, ’n boomhuis en, vir die ouer kinders, ’n oorgroot skaakstel om mee te speel.
Ouers kan rustig sit en ’n wakende oog oor die kleingoed hou.
Die spyskaart bevat ’n verskeidenheid disse, van tradisionele plaaskos soos roos-terkoek en wildspastei, tot die effe meer eksotiese, maar ewe gewilde pizza, wraps en hamburgers.
Die heerlikheid van slaptjips wat met régte aartappels gemaak word, skil en al, is nie te versmaai nie en die kleurvolle slaaie is kraakvars – beslis iets om na uit te sien.
Dit is beslis deel van die lekkerte om in die padstal–gedeelte rond te loop. Daar kan enige iets aangetref word van outydse snuisterye soos nastergalkonfyt en turksvystroop, tot gedroogte vrugte, lekkers en ketties (vir diegene wat nie té geheg is aan hulle vensters nie).
Dit is amper onmoontlik om die outydse lekkerte van Padlangs te ervaar sonder om te dink aan ’n tyd toe boomklim, kaalvoetloop en kettieskiet alledaagse aktiwiteite was en boeretroos in ’n meelsak op die stoof gebrou is. Daarvoor is Padlangs se eie koffie ook in die winkel te koop, indien jy dit so verkies.
’n Interessante en beslis, moderne inleg is die “Little free library”, oftewel, klein, gratis biblioteek. Hierdeur word plaaslike inwoners en gaste aangemoedig om ’n boek te neem en te lees – dit is nie nodig om die boek terug te bring nie – óf een te bring en in die kas te sit. Dit spreek van ’n liefde vir gemeenskap en ontwikkeling van geletterdheid.
In ’n neutedop is Padlangs beslis ’n besoek werd. Maak ’n dag daarvan en geniet die natuurskoon wat onse pragtige vallei bied.
Hier volg ’n resep wat Heidi Muller spe-siaal met die Kouga Express se lesers wil deel:
Padlangs se Lemoenkoek resep
250g botter (goeie kwaliteit)
250ml strooisuiker
3 eiers
125ml melk
50ml vars lemoensap
5ml lemoenskil fyn gesny of gerasper
500ml bruismeel
5ml bakpoeier
Sout
Metode
- Stel oond op 180 grade en smeer koekpanne, bestrooi met bietjie meel.
- Klop botter en suiker saam tot lig en romerig.
- Klits eiers een vir een by.
- Voeg melk, skil en lemoensap by en meng.
- Sif droë bestanddele by bottermengsel, klop goed.
- Skep in panne en bak 25 tot 30 min tot gaar.
- Laat effens afkoel en keer uit op draad-rak. (Ons sprinkel bietjie lemoensap oor die koek wat afkoel om hom nog meer zing te gee)
Versiersel
60g sagte botter
500ml versiersuiker
5ml lemoenskil
Metode
- Meng goed en voeg genoeg lemoensap by om dit smeerbaar te maak.
Nota: Voeg suurlemoensmeer (lemon curd)/ingelegte lemoenskywe/heel kaneelstokkies en skuimpies by om te versier.
- ’n Mens kan lekker speel met hierdie koek se versiering – dit hoef nie altyd dieselfde te wees nie.




