JY moet mooi kyk om Queen Victoria se profiel in die kloof neffens die pad raak te sien – maar dit is soos daardie prentjies waarmee hulle glo jou intelligensie toets – sien jy dit die eerste keer raak, kan jy dit nie weer mis nie.

Ek is nie seker wat my waarnemingsvermoë van my intelligensie sê nie – ek het haar nie die eerste, tweede of selfs die derde keer raakgesien nie. Nie eens toe sy aan my uitgewys was nie.

Die vreemde ruimteman-gesig skuins onder haar regteroor en die onbekende vrou op wie sy haar ken rus, ja – maar vir Queen Victoria – beslis nie. Maar dit het my nie daarvan weerhou om foto’s te neem nie.

Eers ure later by die huis toe my man moedeloos ’n sirkel om haar profiel trek, sien ek vir Queen Victoria waar sy vanuit die Cockscomb-berge getrou oor Patensie in die Gamtoosvallei waghou.

Kobus Kok (70) van Gamtoos Toerisme, vertel dat die bossie-wenkbroue van Queen Victoria nog presies dieselfde lyk as toe hy ’n kind was – die bos het oor die jare nie groter of kleiner geraak nie.

Nog besienswaardighede

Queen Victoria is slegs een van vele besienswaardighede in Patensie.

Besoek een van die talle kanale- en pyplynstelsels wat vanuit die Kougadam water aan 74 000 hektaar inglyste grond voorsien. Dit is in in 1970 voltooi met ’n opvangsgebied van 383 300 hektaar en inhoudsvermoë van 128,45 miljoen kubieke meter.

Die totale lengte van die hoofkanaal is 97km, terwyl die totale lengte van die takkanale en pyplyne onderskeidelik 30km en 91km is.

Hou stil by die oorblyfsels van William Philip se besproeiingstonnel. Die sendeling en sy gemeentelede het dit in 1842 begin bou as deel van hul droom om die gemeenskap se landboubedrywighede uit te brei. Hy het self die rol van landmeter, ingenieur en bouer gespeel, met soveel selfvertroue dat hy die manne aan beide kante van die rif laat begin grou het, 80m daarvan was rotse. Twee jaar later het die twee groepe mekaar bereik en die tonnel was, ten spyte van skade deur oorstromings, vir meer as ‘n eeu lank in gebruik.

Die uitsig van hierdie punt oor die Vallei is ongelooflik en word nie verniet die Bergvenster ge-noem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article