Enna Loggenberg (links) tree af ná 30 jaar diens by die PZ Meyer TB-hospitaal. By haar is die hospitaal se uitvoerende hoof, dr. Mboya Majola. Foto: ANTHONY AUGUSTUS

EEN van die mees gerespekteerde vroue wat by die PZ Meyer TB-hospitaal by die wasgoeddepartement gewerk het, het onlangs afgetree ná toegewyde diens van dertig jaar.

Enna Loggenberg (60) het aanvanklik vir sowat vier maande as ’n skoonmaker gewerk, maar was verplaas na die wasgoeddepartement waar sy haar merk gelaat het. Sy het, toe sy destyds in 1989 begin het, gou be-kend gestaan as ’n staatmaker onder die personeel en pasiënte.

By ’n onlangse afskeidsfunksie vir tannie Enna het die uitvoerende hoof, dr. Mboya Majola, haar as ’n rolmodel én ’n steunpillaar beskryf wat altyd uit haar beurt gegaan het om te help waar sy kon.

“Soms as daar byvoorbeeld nie mense was wat in die kombuis of so kon werk nie, het ek altyd op tannie Enna se nommer gedruk en dan was sy altyd ywerig om in te spring,” het Majola gesê.

Lonta Demingo, ’n kollega in die wasgoeddepartement, het gesukkel om die woorde te uiter en die trane het oor haar wange gerol terwyl sy hulde aan tannie Enna gebring het. Demingo het haar beskryf as iemand met wie ’n mens diepste geheime kon deel en wat altyd gereed gestaan het met advies of ’n kort gebedjie.

Tydens haar spreekbeurt het tannie Enna haar vroeëre jare as een van die mees opvoedkundiges beskryf.

“Hier was slegs bruinmense destyds wat hier gewerk het en Afrikaans was die taal wat gepraat was. Maar met die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika het ander rasse ook hier begin werk. Ek is so trots daarop want ek kon toe uiteindelik leer Engels praat en vandag hoef ek my nie te skaam nie. Ek is vlot tweetalig, te danke aan my Xhosa-medewerkers.”

In haar afsluiting het sy beloof om so af en toe in te loer by haar “tweede huis” en dat sy veral die pasiënte net die beste wil toewens en herinner dat tuberkulose oorwin kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article