‘n Besondere projek van meelewing is onlangs van stapel gestuur toe Mike Minnie en Lourens Delport Jeffreysbaai besoek het as deel van hul staptog deur die land om fondse in te samel vir prosteses vir mense wat ledemate verloor het.

Die manne is deur Jeffreysbaai met hul staptog van Pretoria deur Nelspruit, St Lucia, Richardsbaai, Durban oppad na Kaapstad.

Mike en die span het in daardie stadium reeds ses prosteses aan verdienstelike ontvangers oorhandig.

Op Jeffreysbaai het hulle van Scott Bota-nile gehoor, en hom genooi om saam te kuier toe hulle met die Kouga Express ontmoet het.

Scott werk by Caltex op die dorp. Hy het sy been verloor nadat hy met inflammasie gediagnoseer is, en medici voorgestel het dat amputasie die enigste uitweg is.

Daniël Benson, Kouga-raadslid, het die stappers kom bemoedig en ondersteun. Tydens die gemoedelike gesels, het Mike die raad uitgedaag om vir Scott te help.

Hy en Daniël het die saak bespreek en onderneem om sakemanne van die dorp aan te por om ‘n projek te begin om vir Scott te help om letterlik op die been te kom.

Mike se meelewing boesem vertroue in, en dit is duidelik dat hy mense in dieselfde posisie as hy terug op hul voete wil sien. Hy het sy been weens ‘n motorfietsongeluk verloor. Daar is geveg om die been te behou, maar na ‘n jaar is die stryd prysgegee.

Ek is hier om mense se lewens heeltemal te verander,” sê Mike. “Iemand, soos Scott, wat ’n ledemaat verloor het, moet aangemoedig en bemagtig word, want dit bring selfvertroue en sal sy lewensgehalte radikaal verbeter.”

Dit verg deursettingsvermoë en vasbyt om sonder ‘n ledemaat te leef, maar om op krukke oor die weg te kom – veral in ‘n werksituasie – neem stamina en uithouvermoë.

‘n Dorp van Drome, soos Jeffreysbaai, kan na hul eie mense omsien.

Scott verdien die kans en vryheid om mo-biel te wees.

Mike beroep hom op die gemeenskap en sakemense om hul meelewing te toon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article