Die week van 30 Mei tot 6 Junie is nasionale kinderbeskermingsweek. In die Suid-Afrikaanse Polisiediens is daar ’n gespesialiseerde eenheid wat werk met misdade teen kinders. Die naam van hierdie eenheid is FCS (Family violence, sexual offences and and Child protection unit). ‘Kouga Express’-korrespondent JOANÉ AZENHA het met Kaptein Nico Stander, bevelvoerder van hierdie eenheid in Kouga, gaan gesels oor hoe ouers hul kinders veilig kan hou.

Louise-Mari van Zyl, Xander Van Dyk, Kiran Taute, Chandré Olivier en Kiara Taute leer oor hul regte tydens Kinderbeskermingsweek. Foto: Joané Azenha

“DIT is baie belangrik om ten alle tye te weet waar jou kinders is. ’n Ongeluk gebeur in ’n oogwink.

“Dit is ook belangrik om te weet waar jou kind laaste was in geval iets met hom of haar gebeur. Moet ook nooit jong kinders sonder toesig los nie, al is hulle net besig om te speel,” het Kaptein Stander gesê.

“Leer jou kinders om altyd vir jou te vertel as iets gebeur het waarmee hulle nie gemaklik is nie, en rapporteer altyd insidente aan die regte owerhede, hetsy dit die skool, maatskap-like werker of polisie is.”

Hy het bygevoeg dat kinders van kleins af geleer moet word dat boeliegedrag onaanvaarbaar is, en dat iets nie snaaks is wanneer die “grap” ten koste van iemand anders is nie.

Stander het beklemtoon dat daar geen wagtydperk vir die melding van vermisde kinders in Suid-Afrika nie. Hoe gouer dit aangemeld word, hoe beter is die kans dat die vermisde kind gevind sal word.

“Vermisde kinders, vermoede van geweld of verwaarlosing van kinders of enige ander misdrywe teenoor kinders moet onmiddellik aan die plaaslike polisie gerapporteer word, wat dit dan na FCS sal verwys. Skakel 10111 om insidente te rapporteer.”

In Suid-Afrika het alle mense regte en daar is sommige van hierdie regte wat spesifiek op kinders van toepassing is. Volgens ons grond-wet het alle kinders die reg op:

  • ’n Naam, nasionaliteit, geloof en kultuur;
  • Ouersorg, familie- en of gepaste alterna-tiewe sorg;
  • ’n Veilige en gerieflike tuiste
  • Gesonde kos en klere
  • Onderwys, primêre en sekondêre vlak;
  • Spesiale sorg vir spesiale behoeftes;
  • Om te praat en gehoor te word;
  • Om privaatheid en hul eie besittings te hê;
  • Om te speel en ’n kind te wees en hulle regte te ken.
Kaptein Nico Stander, bevelvoerder van die FCS eenheid. Foto’s:Joané Azenha

Indien kinders nie van hierdie basiese regte voorsien word nie, is hulle moontlik verwaarloos of in gevaar en moet dit aan die nodige owerhede gerapporteer word.

Daar is ook sekere mense wat verplig is om hierdie dinge te rapporteer wanneer hulle bewus word daarvan. Hierdie sluit dokters, onderwysers, maatskaplike werkers en sielkundiges in.

Hier is noodnommers vir kinderveiligheid in Suid-Afrika:

  • 0800 428428 is ’n tolvrye nommer wat ge-skakel kan word deur enige persoon wat hulp of berading benodig vanaf ’n maatskaplike werker.
  • Dit is ook moontlik om te vra dat ’n maatskaplike werker met jou kontak maak deur *120*7867# gratis vanaf enige selfoon te ska-kel.
  • Childline Suid-Afrika se tolvrye nommer is: 0800 055 555
  • Kinderwelsyn in Suid-Afrika se kontaknommer is: 011 452 4110 of stuur ’n e-pos nainfo@childwelfaresa.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article